Skip to main content
Ontmoet Menzi Mtshali: #MyTygerMaties60

Ontmoet Menzi Mtshali: #MyTygerMaties60

FMHS Marketing & Communications
04 Augustus 2016

​As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Menzi Mtshali.

As jy sewe onderskeidings op skool behaal het, is dit nie vergesog om te sê dat jy gewoond is aan harde werk nie. Dit is hoekom Sibongumenzi (oftewel Menzi soos sy beter bekend is) Mtshali nie bang is om hoog te mik nie: sy beoog om eendag ’n internasionaal erkende neurochirurg te wees.

Vir dié Hippokrates-inwoner is dit belangrik om haar tyd as MB,ChB-student te bestuur om haar doel te bereik. Sy erken wel dat kampusaktiwiteite ’n manier het om haar besig te hou.Haar tydsbestuurwenk is om jou dag vooruit te beplan en elke detail neer te skryf. “Só kan jy jouself monitor en presies sien hoe jy jou tyd werklik aanwend.”

Maar, sê sy, dit is nodig om soms te kan afskakel. “Reken ook jou rustye in.”

Mtshali verklap ook dat sy ’n vaardige kok is. Haar tuisgemaakte melktert, tradisionele Zulu brood (’n gestoomde brood genaamd uJege) en haar beesbredie is gewild.

Sy is egter filosofies as sy praat oor die lewe. “Ek is slegs ’n siel in ’n liggaam wat probeer om sin te maak uit alles,” sê sy.

“En hoewel dit nie altyd sin maak nie, wil ek die meeste maak van my tyd hier.”

Vinnige vrae:

  • Beste gewoonte? “Ek knip weekliks my naels.”
  • Slegste gewoonte? “My naelpolitoer splinter gereeld af.”
  • Is sosiale media ’n euwel of ’n seëning? “’n Euwel. Dit laat toe dat mense behep raak met materiële goed en skep ’n wanpersepsie van geluk.”
  • Wat doen jy vir oefening? “Ek dans in my kamer.”