
Ontmoet Jurie Pretorius: #MyTygerMaties60
As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Jurie Pretorius.
Jurie Pretorius beskryf homself as ’n plaasseun van die platteland. Hy het grootgeword in Piet Retief in Mpumalanga en hy sal graag wil terugkeer na die platteland en daar ’n praktyk oopmaak as hy sy MB,ChB-graad voltooi het.Pretorius sê dis sy ouers se harde werk en die opofferings wat hulle gemaak het om hom op universiteit te kry wat hom motiveer om aan te hou presteer. Hy self het egter ook nie slapgelê nie: Pretorius het verlede jaar met agt onderskeidings gematrikuleer en is ook as een van die Top 10-studente in Mpumalanga aangewys.Pretorius mag dalk van ’n klein dorpie af kom, maar hy is ’n groot denker: hy beskryf homself as iemand wat nie sommer ander se opinies aanvaar nie en glo dis belangrik om krities te dink.
Hy het medies gekies omdat hy glo dit gaan hom toelaat om meer as “net ’n normale lewe" te lei en dit hom in die posisie sal sit om uitsonderlike hoogtes te bereik.
“As ek terugdink wil ek sien dat ek meer as net geleef het.”Jurie in ’n kits:
- YouTube of Instagram? “Instagram. Dis minder leeswerk.”
- Slegste gewoonte? “Ek is soms te reguit.”
- Kan jy kook of bak? “Ek roem myself eerder op my braaivernuf.”
- As jy ’n dier was, wat sou dit wees en hoekom? “’n Arend. Die wêreld lyk soveel mooier uit die lug uit.”
- Wat maak jou positief oor Suid-Afrika? “Die passie en opgewondenheid van die jeug.”