Skip to main content
Ontmoet Jacques Jordaan: #MyTygerMaties60

Ontmoet Jacques Jordaan: #MyTygerMaties60

FMHS Marketing & Communications
26 Augustus 2016

As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Jacques Jordaan.“Do you." Dís die mantra waarvolgens natuurliefhebber en mediese student Jacques Jordaan lewe. “Wees wie jy is, en moenie goed doen wat jy nie met jouself assosieer nie," verduidelik hy.Jacques, wat verlede jaar sewe onderskeidings as matrikulant by Robertson Hoërskool behaal het, voel sterk oor dié beginsel. Hy beskou dit as sy lewensdoel om jongmense se houdings teenoor slegte leefstylkeuses soos drank, rook en dwelms te verander.“Moenie verkeerde goed doen om ‘in' te wees nie. Die wat ‘in' is se toekoms is dikwels nie naastenby so blink soos joune nie. Doen wat die moeite werd is,” sal sy boodskap aan tieners wees.Jacques is ’n goeie voorbeeld van hoe ’n mens die lewe kan geniet sonder enige verbode middels. Nie net is hy ’n ywerige veldwedloper en stapper wat dit geniet om stapekspedisies vir hom en sy vriende te beplan nie, maar hy maak ook videos van sy avonture! Gaan kyk gerus op sy Wordpress-webblad, An experience of nature (anexperienceofnature.wordpress.com), hoe hy met sy verskuilde talent as videograaf en regisseur woeker.Vier vinnige vrae:

  • Wat irriteer jou? "Iemand wat hard kou."
  • As jy ’n dier was, wat sou dit wees en hoekom? “’n Luiperd. Ek is nie ’n tropdier nie en verkies om onopgelet in my omgewing te wees.”
  • Kan jy bak of kook? "Nee (laat ek nou maar eerlik wees met myself…)"
  • Beste studiewenk? “Moenie die werk as ‘werk’ sien nie. Laat dit jou interesseer."