
Ontmoet Breda Reed: #MyTygerMaties60
As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Breda Reed.
Hy is ’n trotste Namibiër wat skoolgegaan het op Paul Roos Gimnasium. Hy is mal oor mense, hokkie, honde en sy ma se beskuit. Hy glo alles gebeur met ’n rede en dat mense nie die lewe te ernstig moet opneem nie.
Dít is hoe Windhoek-inboorling en eerstejaar MB,ChB-student Breda Reed homself in ’n tweet sal beskryf. Hy het met sewe onderskeidings gematrikuleer en is verlede jaar ook aangewys as die beste onder-18 seunshokkiespeler in die land.
Vir hom lê die geheim om sukses te behaal daarin om doelwitte te hê. “Enigiemand kan tydsbeplanning doen, maar as iets jou nie motiveer nie, gaan jy nie sommer by die program hou nie,” glo hy.
En dit geld vir beide sy studies en sy sport.
Reed beskou sy pa as suksesvol juis omdat hy ’n voorbeeld stel deur sy doelwitte te bereik en baie streng volgens goeie waardes lewe.
Hy glo dat inspanning, en nie noodwendig talent nie, die ding is wat mense onderskei. “Daar sal altyd iemand wees wat beter is as jy, maar daar moet nooit iemand wees wat harder as jy werk nie.”
Blitsfeite:
- Hy is maak graag kos, veral wanneer hy eintlik moet studeer.
- Hy was sy hande ten minste 20 keer per dag. “Ek haat vuil hande.”
- Dit irriteer hom as mense stadig praat.
- Om te stort met ’n grasbrandbesering laat hom huil.
- Hy verkies animasieflieks bo ander rolprente. “My gunsteling is Big Hero 6.”