Skip to main content
Onthou om deel te neem aan die kultuur- en klimaatsopname

Onthou om deel te neem aan die kultuur- en klimaatsopname

Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
08 Februarie 2017

Alle personeellede van die Universiteit Stellenbosch word vriendelik daaraan herinner om asseblief aan die Universiteit se kultuur- en klimaatsopname deel te neem. Met dié opname wil die US om gehalte- en bedryfsredes die bestuur se voornemens met personeel se opvattings vergelyk. Om sukses te behaal in die US se voortgesette strewe na uitnemendheid, relevansie en ’n beduidende sosiale impak, soos in die Institusionele Voorneme en Strategie (IVS) bepaal, maak ons staat op ons mense – veral ons personeellede en ons studente. In geïntegreerde verslagdoeningstaal praat ons van ons “menslike kapitaal”. Daarom is dit belangrik om ’n institusionele klimaat van begrip, waardering, verdraagsaamheid teenoor verskillende kulture en oortuigings, en gedeelde waardes te ontwikkel. Waarom die opname? Die US streef daarna om ’n voorkeurwerkgewer en ’n toonaangewende universiteit te wees deur voortdurend die werksomgewing vir al sy personeellede – akademici sowel as professionele, administratiewe en steundienspersoneel – te verbeter. Deur die personeelopname oor US-kultuur en -klimaat bied die Universiteit alle personeellede ’n geleentheid om na te dink en hulle menings uit te spreek oor ’n aantal belangrike sake wat hulle as werknemers raak. Die resultate/bevindinge van die opname stel die leierskap van die Universiteit ook in staat om deur middel van ’n omvattende en gestruktureerde program te bepaal watter kernuitdagings ’n nadelige uitwerking op personeel het, en dít dan die hoof te bied. Vrywillige deelname Let asseblief daarop dat u deelname aan hierdie opname heeltemal vrywillig is. Tog sal die US nie sonder u deelname die haakplekke kan uitstryk nie. Daarom vra ons u om alle vrae so openhartig en eerlik moontlik te beantwoord. Hierdie opname is ‘n geleentheid om die Universiteit belangrike terugvoering te gee oor hoe u voel oor kernkwessies wat u as personeellid raak.Vertroulikheid, naamloosheid en onafhanklikheid Wees ook gerus dat u antwoorde geheel en al vertroulik en naamloos sal wees. Dít beteken dat die Universiteit nie enige antwoorde met enige bepaalde personeellid sal kan verbind nie. ’n Ekstern gekontrakteerde, onafhanklike diensverskaffer doen die opname namens die US. Die diensverskaffer het die aanlyn platform vir die opname ontwikkel, en dien ook as gasheer van die domein en webtuiste. U personeelnommer en 'n oop Inetkey word benodig om by die skakel www.susurvey.co.za toegang tot die opname te verkry. Die US personeelnommer is nodig om seker te maak dat die persoon wat die opname voltooi wel ‘n werknemer van die US is. Die nommers word apart van die antwoorde gestoor en geverifieer. Die stelsel skep geen verwysing tussen die nommers en die voltooide meningsopname nie.Alle verslae en resultate sal in ‘n excel-blad aangebied word, en sal volgens die datum en tyd wat die vraelys voltooi is georden word.As ‘n internet-diensverskaffer, is die diensverskaffer se besigheidsmodel gebou op die veilige bewaring van inligting en data. Hulle bestuur data-bergingsfasiliteite vir die Universiteit Pretoria en verskeie regsfirmas.  Lynbestuurders word versoek om alle personeel wat nie in die uitvoering van hulle pligte toegang het tot epos en die internet nie, in te lig dat hulle spesiale reëlings kan tref om die opname te voltooi met me Adele Josias ([email protected] of 021 808-2867) by die afdeling Menslike Hulpbronne.