Skip to main content
Ondersteuning, leiding beskikbaar vir Tygermaties

Ondersteuning, leiding beskikbaar vir Tygermaties

Liezel Engelbrecht
04 Augustus 2016

"As jy 'n student is op enige Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe-kampus wêreldwyd, is die kanse groot dat jy ekstra ondersteuning gaan nodig hê." Só sê An-Maree Nel, senior kliniese sielkundige by die Sentrum vir Studentevoorligting- en Ontwikkeling (SSVO) by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). "Die aard van die werk asook die druk waaronder dié studente verkeer, veral in die Suid-Afrikaanse konteks, is buitengewoon."

Onrealistiese akademiese verwagtinge dra by tot dié stres. "Ons studente is gewoond daaraan om akademies goed te presteer. Wanneer hulle gekonfronteer word met slegte uitslae sien hulle dit dikwels nie as deel van 'n leerkurwe nie, maar internaliseer hulle dit tot só 'n mate dat hulle hul waardigheid aan hul punte koppel," verduidelik sy. Finansiële- en sosiale druk beïnvloed dikwels ook 'n student se gemoedstoestand. Ongelukkig, sê Nel, maak baie studente nie gebruik van al die ondersteuningsnetwerke tot hul beskikking nie.

"Emosies word dikwels gesien as 'n teken van swakheid," sê sy. Maar om jou emosies te onderdruk is nie 'n goeie langtermynplan nie. Nel sê dis onvermydelik dat dit later weer sal kop uitsteek, soos wanneer jy 'n bal onder water probeer hou. "In plaas daarvan dat studente proaktief aandag gee aan hul emosies, probeer hulle eerder om vir so lank as moontlik met 'n masker van bekwaamheid rond te loop tot hulle nie meer normaal kan funksioneer nie en gedwing word om hulp te soek."

Nel moedig studente aan om die SSVO se ondersteuningsdienste te benut: hulle bied gratis toegang tot kliniese- en opvoedkundige sielkundiges asook voortgaande groepsinisiatiewe op die Tygebergkampus aan. Elke semester is daar akademiese sessies wat leertegnieke- en style, geheuetegnieke en tyds- en angsbestuurstegnieke aanspreek. Die Connect en Breathing Space-byeenkomste spreek persoonlike- en professionele-ontwikkelingsvaardighede aan.

"Connect bied 'n geborge omgewing waar studente blootgestel word aan ervaringe en perspektiewe van medestudente en sodoende kan besin oor hul eie situasie," vertel Nel. Studente sluit vir agt weke lank by dié groep aan en woon elke week 'n uurlange sessie by. 'n Nuwe groep hervat weer in September.

Tydens die Breathing Space-sessies, wat elke Dinsdag van 12:00-12:45 in die Studenteverenigings se kamer in die TSS plaasvind, leer studente praktiese stresbestuursvaardighede soos meditasie, visualisering, ontspannings- en indagtigheidstegnieke.

"Ons reël ook ad hoc sessies op grond van klasgroepe se unieke behoeftes, soos byvoorbeeld nabetragting na 'n kliniese blootstelling." Nel sê voorstelle vanaf studente is welkom.

As jy steeds wonder of jy moontlik ekstra ondersteuning nodig het, het Nel 'n lys kentekens saamgestel wat daarop dui dat jou emosies verwoesting kan begin saai in jou lewe:

  • Jy vermy ander mense en sonder jouself af.
  • Jy stel werk uit (meer as gewoonlik).
  • Jy voel bykans heeltyd hartseer of depressief.
  • Jy slaap te veel of te min.
  • Jy eet buitengewoon baie of buitengewoon min.
  • Jy voel gedurig moeg en ongemotiveerd en jy sukkel om op jou werk te konsentreer.
  • Jy vaar akademies swak (druip).
  • Jy is oormatig geïrriteerd, krities teenoor jouself, tranerig en angstig.
  • Jy voel oorweldig deur alles.
  • Jy drink uitermatig baie alkohol of jy begin met dwelms eksperimenteer.

"Almal het 'n plek nodig waar hulle veilig voel om te kan groei, hul energie kan herwin, te besin en te kan deel en skakel met ander. Jy hoef te wag tot jy reeds afgetakel is om van ons dienste gebruik te maak nie. Die SSVO bied verskeie veilige plekke wat poog om jou persoonlike en professionele groei te bevorder. Gryp dié geleenthede aan, jy sal nie spyt wees nie," sê Nel.Ontmoet die FGGW-span*

An-Maree Nel: Senior Kliniese Sielkundige

Liani Joubert: Konsulant Opvoedkundige Sielkundige

Louise Fischer: Konsulant Opvoedkundige Sielkundige

Natalie Smith-Chandler: Konsulant Opvoedkundige Sielkundige

Laetitia Norval: Ontvangsdame

*Hulle maak ook ad hoc gebruik van ander sielkundiges.

Maak kontak

Om 'n gratis en vertroulike afspraak te maak by 'n opvoedkundige- of kliniese sielkundige, of om meer uit te vind oor die ondersteuningsgroepe en leersessies, kontak die volgende spanlede:

Inligting oor nuwe inisiatiewe sal ook bekend gemaak word op die TSR se kennisgewingsborde en Facebook-blad.