Skip to main content
Om dapper te wees in ‘Dapper nuwe wêreld’

Om dapper te wees in ‘Dapper nuwe wêreld’

Calvin Ullrich
25 November 2016

"O brave new world, that has such people in it!" Laasgenoemde aanhaling kom uit Aldous Huxley se tegno-distopiese boek, Brave New World, wat in 1932 gepubliseer is. Dit kom oorspronklik uit die Shakespeare-drama, The Tempest.  

Met Huxley se boek as inspirasie en na maande se samewerking het 26 studente, wat deel uitmaak van die 2016 Universiteit Stellenbosch (US) en Katolieke Universiteit Leuven (KU Leuven) studente-dinkskrum, 'n aanbieding vir US personeel en studente gedoen oor wat hulle geleer het rondom die tema "Brave New World? Merging technology and society: opportunities, challenges and threats for the quality of life". Die aanbieding is by die STIAS Wallenberg-navorsingsentrum op Woensdag 23 November gehou.

In haar openingstoespraak by die geleentheid het Prof Hester Klopper, viserektor: Strategiese Inisiatiewe en Internasionalisering verwys na die "Vierde Industriële Revolusie". Laasgenoemde gaan oor die fase in menslike ontwikkeling waar die kompleksiteit van ons sosiale bestaan in die globaliseerde wêreld deur 'n tegnologiese revolusie herskep word. "Die uitdagings en geleenthede wat deur hierdie ongekende tydperk van transformasie meegebring word is iets wat verskeie belanghebbendes moet na kyk," het prof Klopper gesê.

Met hierdie as oogmerk en as deel van die US se voorkeur-vennootskapsooreenkoms met KU Leuven, werk studente van die twee universiteite saam om 'n 'n ko-kurrikulêre leerervaring te skep. Die dinkskrum word deur die Frederik Van Zyl Slabbert (FVZS) Instituut en die Universiteit Stellenbosch Internasionaal aangebied. Die groep, dertien studente elk van US en KU Leuven, werk al van die begin van die jaar saam. Na 'n reeks aanlynwerkswinkels, gaslesings en navorsingsprojekte, het hulle mekaar vir die eerste keer in persoon op die US-kampus ontmoet,  waar hulle vanaf 12 tot 14 November saamgewerk het aan hul aanbieding.

In 'n fiktiewe debat-styl-formaat het die groep drie temas; gesondheidsorg, onderwys en sosiale media geïdentifiseer wat vanuit 'n mens-gesentreerde teenoor 'n tegnologiese benadering gevoer gedebatteer is. Diegene wat die aanbieding bygewoon het kon deur 'n aanlyn kiesstelsel deelneem aan 'n interessante, humoristiese en deurdagte bespreking oor pertinente kwessies.

Moet sosiale media gesensor word, of is dit 'n nuttige instrument om idees te versprei?

Oorskry mediese tegnologie die grense van menslike evolusie? Stimuleer oop-bron leerstels onderwys of haal dit die menslike element in pedagogie uit?

"Hierdie vrae het my wakker gehou die afgelope jaar," het Aude Van Oosterwyck 'n mediese student van KU Leuven vertel. "Een van die moeilikste dele van die samewerking was om met ons verskillende agtergronde gemeenskaplike grond te vind. Die aard van die dinkskrum stel jou bloot aan verskillende perspektiewe, met teoloë, ingenieurs, argitekte - en dis van onskatbare waarde."

"Dit was wonderlik hoe ontvanklik hulle is vir Suid-Afrikaanse uitdagings e nook om hul perspektiewe te verbreed," het Lynton Spies, 'n Teologie meestersgraad student by US, na die tyd gesê. "Hulle was oop om ons wêreld te betree, nes ons oop was om hulle s'n te ervaar. Dis wat dalk regtig bedoel word met 'n dapper nuwe wêreld."