Skip to main content
Nuwe manlike voorbehoedmiddel revolusionêr, sê kenner

Nuwe manlike voorbehoedmiddel revolusionêr, sê kenner

Wilma Stassen
25 Julie 2016

'n Nuwe metode van manlike voorbehoeding wat net so doeltreffend soos 'n vasektomie is, maar heeltemal omkeerbaar is en min of geen newe-effekte het nie, sal na verwagting binne die volgende twee jaar beskikbaar wees.

"Indien dit suksesvol is, sal dit die veld van voorbehoeding drasties verander," sê 'n uroloog van die Universiteit Stellenbosch (US), dr Amir Zarrabi, van 'n nuwe manlike voorbehoedmiddel wat tans belowende resultate oplewer in menslike proewe.

"Dit gee paartjies meer opsies. Hulle kan veilige en betroubare voorbehoeding hê – sonder enige hormonale effekte of ander newe-effekte – wat omgekeer kan word wanneer hulle met 'n gesin wil begin," het hy gesê in die aanloop tot die Wes-Kaapse Sterilisasieweek wat van 23 tot 27 Julie herdenk word.

Die nuwe voorbehoedmiddel, Vasalgel, wat tans deur die Amerikaanse Parsemus-stigting getoets word, is 'n soort "geen-skalpel vasektomie". Net soos 'n vasektomie blok dit die vloei van sperm van die testis na die penis, maar in plaas daarvan om die buisie wat die sperm vervoer (genaamd die vas deferens) af te sny, word 'n gel by die buisie ingespuit wat sperm versper, maar ander vloeistowwe laat deurgaan.

"Vasalgel benodig geen chirurgie nie. Alhoewel 'n vasektomie 'n klein prosedure is, hou dit wel risikos in, soos bloeding of infeksie, en daar is ook 'n kans dat 'n man pyn na 'n vasektomie kan ervaar weens druk wat in die testis opbou. Vasalgel hou geen van hierdie risikos in nie," verduidelik Zarrabi, 'n spesialis in manlike fertiliteit en mikrochirurgie by die Afdeling Urologie aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Nog 'n groot voordeel van Vasalgel is dat dit omkeerbaar is en as kort- of langtermyn-voorbehoeding gebruik kan word. Wanneer 'n paartjie wil swanger raak kan die Vasalgel uit die vas deferens gespoel word met 'n koeksoda-mengsel.

Alhoewel menstoetsing van Vasalgel reeds begin het, is die omkeer nog net in diere getoets en die vloei van sperm het vinnig herstel.

Zarrabi waarsku dat alhoewel Vasalgel die vloei van sperm versper, dit geen beskerming bied teen seksueel oordraagbare siektes soos MIV nie.

Vorige pogings om 'n manlike voorbehoedmiddel te ontwikkel het gefokus op die manipulasie van hormone, net soos die vroulike voorbehoedmiddel, oftewel "die pil".

"Die manlike hormoon, testosteroon, is gekoppel aan sperm-produksie en deur die testosteroon-vlak in 'n man se testis te verlaag kan jy verhoed dat hy sperm produseer," verduidelik Zarrabi.

"Die klink teenintuïtief, maar om die testosteroonvlakke in die testis te verlaag moet jy die vlakke in die bloed verhoog. Maar studie op studie het getoon dat daar te veel onaangename newe-effekte is," sê Zarrabi. Die newe-effekte van verhoogde testosteroonvlakke in die bloed sluit in aggressie, depressive, moegheid, 'n lae libido, hoë bloeddruk en verhoogde cholesterolvlakke.

"Navorsers het probeer om die metode te verbeter deur ander hormone by te voeg, soos die vroulike hormoon progesteroon, maar eindelik het dit steeds te veel newe-effekte gehad en was dit ook nie doeltreffend genoeg nie. Die idee van 'n 'manlike pil' is 'n paar jaar gelede laat vaar en sedertdien het die meeste nuwe navorsing gefokus op intra-vas toestelle soos Vasalgel," sê Zarrabi.