Nuwe gids help SA sitrusboere met bemestingskwessies
'n Nuwe handboek bied uitgebreide insigte aan Suid-Afrika se uitvoergedrewe sitrusbedryf oor die voedingsbehoeftes van sitrusbome, hoe om blaar-, grond- en watermonsters te neem en te interpreteer, en hoe om te identifiseer wanneer bome voedingstekorte ervaar.
Hierdie 141 bladsy gids, “Handbook for Fertilisation of Citrus in South Africa", is saamgestel deur dr Pieter Raath van Citrus Research International (CRI) en die Departement Hortologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), in samewerking met ʼn werkgroep van kundiges uit die sitrusbedryf.
Dr Raath en sy kollegas het reeds deur die loop van 2021 die kernkonsepte daarin aan die bedryf bekend gestel in 'n reeks tweedag-werkswinkels. Dié is gehou in Addo (Oos-Kaap), Simondium (Wes-Kaap), Hoedspruit (Limpopo) en Groblersdal (Mpumalanga).
Die publikasie van die hardeband boek is moontlik gemaak deur gedeeltelike befondsing vanaf die Nasionale Departement van Wetenskap en Innovasie.
“Die doel daarmee is om aan beide sitrusprodusente asook adviseurs 'n grondige kennis te gee oor die teoretiese en praktiese elemente wat betrokke is as ʼn mens die optimale voeding van sitrusbome so goed moontlik wil bestuur," sê dr Raath.
“Om dit reg te kry om die hoogste moontlike kwaliteit aan uiters mededingende wêreldmarkte te lewer, moet mens begin by die grondbeginsels van optimale produksiepraktyke. Hier speel voeding 'n kardinale rol," sê CRI se hoof-uitvoerende beampte, dr Vaughan Hattingh.
Citrus Research International is 'n navorsings- en tegniese dienste maatskappy wat in Suid-Afrika gebaseer is, en primêr op sitrusproduksie fokus.
Dr Hattingh het die span agter die boek as volg vir hul harde werk bedank: “Dit was 'n grootse taak om alle moontlike voorstelle en riglyne in een handboek saam te vat, maar dr. Raath en sy medewerkers het hulself uitstekend van dié taak gekwyt. Die handboek is 'n uiters waardevolle hulpmiddel wat die Suid-Afrikaanse Sitrusindustrie sal bystaan om voortdurend uiters hoë kwaliteit vrugte aan globale markte te bly lewer. Dis 'n besliste moet vir adviseurs in die hortologiesektor, sowel as vir sitrusprodusente."
Die boek word in hardeband uitgegee, en 'n elektroniese weergawe word ook binnekort vrygestel. Dit bevat die jongste toonaangewende en praktiese riglyne rondom die voedingsbehoeftes van sitrusbome, en hoe om dit te behaal danksy 'n intensiewe bemestingsprogram wat finansieel sin maak, 'n deurlopende opbrengs verseker en ook bydra tot water- en grondkwaliteit. Dit is 'n opvolg op Hannes Coetzee se “Bemestingsriglyne" wat in 2007 as deel van die “CRI Produksieriglyne" gepubliseer is.
“Deur ons nuwe handboek kon ons die bestaande uiters bruikbare wenke in die oorspronklike 'Bemestingsriglyne' opdateer, en wetenskaplike beginsels wat al jare in gebruik is met nuwe praktiese benaderings kombineer sodat dit die dinamiese aard van die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf kan reflekteer," sê dr Raath.
Oor die nodigheid vir produsente om op kwessies rondom bemesting te fokus, sê dr Raath: “Dis met reg so dat die voedingsbehoeftes van vrugtebome baie spesifieke aandag geniet in moderne sitrusproduksiesisteme. Die doel van bemesting is om te verseker dat 'n boom alle minerale voedingstowwe wat nodig is kry, in genoegsame hoeveelhede om 'n spesifieke produksieteiken te kan haal. Sitrusprodusente en hul tegniese raadgewers moet daarom 'n gebalanseerde voedingsprogram kan volg wat spesifiek is tot elke klimaatsone, grondtipe en die kultivars waarmee geboer word.
In praktyk beteken dit dat produsente en adviseurs genoegsame kennis het oor 'n verskeidenheid van veranderlikes, soos grondtipes, die klimaat, bemestingstowwe, die fisiologie van bome en die mikpunte rondom die kwaliteit van vrugte. “Inligting rondom al hierdie aspekte is nodig wanneer mens 'n bemestingsprogram saamstel, en dit op boordvlak implementeer."
Hy het lede van die Werkgroep vir hul bydraes bedank vir hul hulp met die samestelling van die publikasie. Onder hulle is gerekende grondkundiges en kenners oor sitrusverbouing.
“In die proses kon ons wetenskaplike beginsels, wat reeds oor jare heen ontwikkel is, tesame met praktiese ervarings kombineer om 'n vars, opgedateerde en volledige gids oor die voedingsbehoeftes van sitrusbome aan die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf verskaf."
Vir navrae, of om kopieë teen R250 deur CRI aan te skaf, kontak dr. Pieter Raath by [email protected] of Bella Thulare by [email protected].