
Nuwe eenheid se globaleleergeleenthede “enig in hul soort”
Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal se nuwe Eenheid vir Globale Leer is skaars drie maande oud, maar is reeds druk besig om die koers aan te dui vir 'n aantal globaleleerprogramme en -inisiatiewe wat die US se internasionaliseringsagenda bevorder.
Die Eenheid is in Maart 2024 bekend gestel en val onder die Sentrum vir Globale Skakeling se afdeling vir globale onderwys. Volgens senior programbestuurder Sarah Richmond strook die Eenheid vir Globale Leer en sy programme goed met die Universiteit se standpunt oor internasionalisering en wat dit beteken om 'n instelling van Afrika, maar met 'n wêreldwye impak te wees. “Baie van die Eenheid se programme is gevestigde aanbiedinge wat beoog om nuut te dink oor wat globale leer beteken, nie net vir internasionale studente wat in Afrika kom studeer nie, maar ook vir Stellenbosse studente, wat gedurende hulle graadstudie uit 'n verskeidenheid globale ervarings kan kies," sê Richmond.
Nêrens anders te kry nie
Sy voeg by: “Ons Eenheid vir Globale Leer wil graag impakryke en outentieke globaleleerervarings skep vir alle studente wat met die US te doen kry. Ons wil sorg dat studente se ervarings binne én buite die klaskamer tot leeruitkomste lei wat enig is in hulle soort en nêrens anders te kry is nie."
Daarbenewens is die leeruitkomste van die Eenheid se programme gekoppel aan die UNESCO-leerstoel in interkulturele bevoegdheid, wat in US Internasionaal se Afrikasentrum vir Akademieskap geleë is. Die leerstoel bevorder 'n geïntegreerde stelsel van navorsing, onderrig en opleiding om interkulturele bevoegdheid aan te moedig. “Die leerstoel is by die US tot stand gebring om sowel bestaande as toekomstige narratiewe oor die betekenis van interkulturele bevoegdheid uit 'n Afrika-oogpunt te bestudeer en te beïnvloed," verduidelik Richmond. “Die betekenis van interkultureel bevoegde en verantwoordelike internasionalisering word tans grotendeels deur die globale noorde bepaal, so die leerstoel sal daardie leemte vul, ook in hoe ons globaleleergeleenthede by die US ontwerp."
Sorg dat studente inskakel, deelneem en floreer
Die Eenheid vir Globale Leer se programme draai om vier hooftemas, naamlik studente-integrasie, studentelewe en -sukses, akademiese geleenthede, en tuis-internasionalisering.
Studente-integrasie behels die integrasie van internasionale studente, hetsy semester- of volgraadstudente, by die US, sowel as die integrasie van plaaslike studente by die internasionale kohort. “Ons rol is om outentieke gemeenskapsgerigte integrasie te fasiliteer, soos om studente saam te laat braai en vir geleenthede soos die Wêreldbekerrugby te laat saamkom," sê Richmond. “Ons hou ons ore oop vir gebiede waar studente dalk uitgesluit voel sodat ons hulle 'n ruimte vir ware integrasie kan help skep."
Onder die tema van studentelewe en -sukses sien die Eenheid om na studente se fisiese en geestesgesondheidsbehoeftes en fasiliteer ook die Internasionale Studentevereniging, wat inklusiewe kulturele geleenthede aanbied.
Pasgemaakte akademiese geleenthede
Studente uit die buiteland ontvang verskeie pasgemaakte akademiese geleenthede in die hoofstroom- en ko-kurrikulêre ruimte om hulle 'n basiese kennis van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, politiek, populêre kultuur en die MIV/vigs-pandemie te gee. Spesiale taalkursusse van die US Taalsentrum stel hulle ook in staat om deur taal 'n band met die land en sy mense te bou. Boonop kan studente aan vrywilligerprogramme deelneem wat 'n wêreldburgerskapsbenadering volg tot verantwoordelike skakeling met kwesbare gemeenskappe.
Tuis-internasionalisering
Laastens beoog die Eenheid se werk op die terrein van tuis-internasionalisering om 'n internasionale ervaring te voorsien aan die baie plaaslike studente wat nié in die buiteland kan gaan studeer nie. Soos Richmond verduidelik: “Dit is ongelukkig so dat die meeste plaaslike studente moontlik nie in die buiteland kan gaan studeer nie. Dit is duur, selfs al probeer US Internasionaal studente met studie- en reisbeurse bystaan. Die akademiese struktuur van baie graadprogramme maak dit ook onmoontlik om 'n semester oorsee deur te bring."
Om dít te oorkom, stel inisiatiewe soos die Matie Buddy-program plaaslike studente in staat om internasionale studente op Stellenbosch te help aanpas, en in die proses 'n internasionale ervaring te hê. Amani, die nuut saamgestelde Afrikastudenteraad, werk ook op die terrein van integrasie, leierskap en kulturele indompeling. “Ons het ook 'n hele klomp aanlyn geïntegreerde leerinisiatiewe saam met ons vennote waardeur studente wat nie kan reis nie met internasionale studente kan skakel en aan verskillende sienings blootgestel kan word," sê Richmond. “Sommige daarvan word deur US-professore as deel van die sillabus aangebied, en ander in samewerking met die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut en die Ko-kurrikulêre Kantoor."
Ook die US se lidmaatskap van etlike internasionale netwerke bied vele aanlyn internasionale geleenthede. Dít sluit in die Wêreldburgerskapkursus wat saam met die INU-netwerk aangebied word, en die Sertifikaat in Internasionalisering, waarvoor die US, as 'n lid van die EUTOPIA-netwerk, as tutor optree.
Aanpasbaar en innoverend
“Die doel van die Eenheid vir Globale Leer is om aanpasbaar en innoverend te wees om ons vlagskipprogramme vir globale leer te verbeter en te vernuwe, terwyl ons ook nuwe inisiatiewe saam met ons studente en akademici ontwerp," sê Richmond ten slotte. “Ons sal alle vorme van globale skakeling ondersoek om die mees impakryke en transformerende ervaring te skep wat ons kan."