Skip to main content
Nasionale debuut vir Steinhoff Maties se Glasby

Nasionale debuut vir Steinhoff Maties se Glasby

Maties Hockey / Maties Hokkie
11 April 2016

​Steinhoff Maties Hokkie se Tarryn Glasby het in die onlangse Private Property-somerreeks haar senior internasionale debuut vir die nasionale vroue-hokkiespan gemaak.

Glasby het haar eerste toets teen Skotland gespeel en het haar eerste doel in net haar tweede toets vir haar land aangeteken. Een van haar beste oomblikke in die reeks was in die laaste toets teen Duitsland op die Maties Astro. Sy het die gelykmakende doel moontlik gemaak deur individuele briljantheid ten toon te stel.

"Om my debuut vir die nasionale span te maak, was 'n droom vandat ek op die ouderdom van sewe begin hokkie speel het, so om uiteindelik die doel te bereik,​​​ was ongelooflik. Ek het so bevoorreg en opgewonde gevoel om deel van die span te wees, maar was terselfdertyd baie op my senuwees," het Glasby ná die reeks gesê.

"Ek het beslis 'n bietjie verligting gevoel toe ek my eerste internasionale doel aangeteken het. As 'n doelskieter is dit belangrik om doele aan te teken, want dit is die rede waarom jy gekies is."

Suid-Afrika se opponente in die Somerreeks was Indië, Skotland en Duitsland. Die Duitsers was die grootste uitdaging vir Glasby en haar spanmaats. "Duitsland is tegnies en fisiek so 'n goeie span en daarom was die gedagte om teen hulle te speel inderdaad 'n skrikwekkende een. Dit was beslis 'n uitdaging, maar ek het nog altyd van uitdagings gehou."

Glasby sal nou daarop fokus om goeie hokkie vir Maties te speel en die span te help om sy doelwitte te bereik. "Een doel is om weer die Westelike Provinsie Groot-uitdaagliga te wen. Dit sal nie maklik wees nie, want ons het strawwe kompetisie. Nog 'n doelwit is om vanjaar een tree verder te gaan by die USSA-toernooi nadat ons verlede jaar in die eindstryd gespeel het. En hopelik gaan ek nog baie doele vir Maties aanteken!"

As 'n speler weet Glasby daar lê nog baie harde werk voor. "Ek wil aanhou verbeter en seker maak ek bly deel van die nasionale sisteem."