Nadoktorale genoot krap kop oor indringerkewer se genetika
'n Kleine pestilensie genaamd die stompkopkewer het iewers oor die afgelope dekade ongevraagd in KwaZulu-Natal aangeland, vermoedelik as deel van skeepsvrag wat in Durban-hawe aangeland het. Sedertdien het dit (tesame met 'n simbiotiese fungi wat skade aan bome aanrig) stadig maar seker oor die land begin versprei na beide tuinbome en inheemse bome. Navorsers toets sedertdien metodes om die insek te keer. Ander weer, soos genetikus dr. Anandi Bierman, 'n nadoktorale genoot in die Universiteit Stellenbosch se Departement Bewaringsekologie en Entomologie, probeer vasstel wat die insek se genetika hulle kan vertel oor die verspreiding daarvan.
Dr. Bierman is een van twee nadoktorale navorsers met 'n verbintenis aan die US Fakulteit AgriWetenskappe wat onlangs as een van die top 20 nadoktorale genote aan die Universiteit Stellenbosch aangewys is. Die ander is agri-ingenieur dr. Tobi Fajidi, verbonde aan die Na-Oes Tegnologie Leerstoel in die Departement Hortologie.
Dr. Bierman het oor die afgelope twee jaar regoor Suid-Afrika monsters van die kleine insek (en sy simbiotiese fungus, die eintlike sondebok is as dit kom by die besmetting en daaropvolgende beskadiging van bome kom) ingesamel. Dié het sy sedertdien deeglik ondersoek deur van die jongste genomika-tegnologie gebruik te maak.
"Daar is 'n goeie kans dat die kewer al op meer as een geleentheid saam met vrag die land ingekom het, maar dit moet ons nog deur genetiese toetsing vasstel. Die genetika gaan vir ons verduidelik waar die kewer vandaan kom, hoe hulle versprei en hoe naby verwant verskillende moontlike populasies in Suid Afrika aan mekaar is."
Die kewer is reeds in 2012 opgemerk, en het sedertdien vanuit KwaZulu-Natal tot sover as Jan Kempdorp, Bloemfontein, die Suid-Kaap en die Boland beweeg.
“Dis regtig 'n baie klein insek, en vlieg nie vreeslik ver nie, maar tog het dit reeds die hele land vol versprei."
Dr. Bierman werk tans saam met die Max Planck Instituut in Duitsland om die volledige genoom van beide die kewer en sy simbiotiese fungus te ontleed.
“.Baie soorte spesies kewers wat gelukkig tans nog nie in Suid-Afrika voorkom nie, kan soortgelyke skade as die stompkopkewer aanrig. Mens moet dink aan die skade wat hierdie kewer en ander soortgelykes kan doen as hulle dalk ook sou versprei."
Sy sê dis daarom nodig om te weet waar daar haakplekke in die invoersisteem is, sodat byvoorbeeld strenger maatreels ingestel kan word om verspreidings te bekamp. Dit is ook nodig om moniteringsprogramme soos die 'Sentinel' projekte te ondersteun sodat vroegtydige inligting van nuwe indringers bekom kan word. Dis 'n inisiatief deur die Universiteit van Pretoria se FABI-insituut wat verbeterde toesig en monitering van indringerpeste en patogene in die land voorstaan. Dit dien as 'n vroeë waarskuwingstelsel vir moontlike probleme, soos die stompneuskewer.
Dr. Bierman werk nog tot 2022 as nadoktorale genoot in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie.
“Om 'n nadoktoraat te kan doen gee mens besonders baie vryheid om jou navorsing na te streef. Dis kosbaar," noem sy.
“Die lekkerste is dat jy absoluut die drywer van jou beroep kan wees. Meestal het jy baie beweegruimte om jou tyd en belangstellings te gebruik om ook te kan werk aan ander projekte buiten jou kernnaovrsingsprojek. Dis 'n baie bevrydende en positiewe ervaring.
“Daar is baie min plekke buite die akademie in Suid-Afrika waar ons navorsing kan doen , veral in die molekulêre wetenskappe.
“Dis 'n voorreg om in 'n laboratorium te kan werk en absoluut jou passie te kan volg."
Dr. Bierman kom uit 'n familie van natuurliefhebbers. Dié Pretorianer se belangstelling in genetika het reeds in haar matriekjaar as't ware ontkiem, toe sy in die Biologieklas van Hoërskool Wonderboom die eerste keer kennis gemaak het met studies oor verwantskap en oorerflikheid. Die koeël was deur die spreekwoordelike kerk toe sy volpunte gekry het vir die taak wat hulle daarna moes doen, en sy het besluit om 'n BSc in Genetika aan die Universiteit van Pretoria te volg. Dié het sy in 2006 verwerf. Sy het haar eerste treë in die navorsingswêreld in haar honneursjaar geneem met 'n studie oor die genetiese bestandbaarheid van sekere soort koringkultivaars teenoor die Russiese koringluis.
Perde was weer die tema van haar meestersgraad, ook aan UP. Sy het 'n DNS-tiperingstoets waarmee die verwantskap tussen perde maklik getoets kan word verfyn, en ook die populasiedinamika in terme van verbastering by volbloed en Arabiese perde in Suid-Afrika bekyk.
Vir haar PhD, dié keer aan die US onder leiding van professor Anna-Maria Botha-Oberholster van die Departement Genetika, het sy teruggekeer na graan. Sy het nuwe generasie volgordebepaling gebruik om die genetiese kaart op te stel van die presiese geen wat daarvoor verantwoordelik is dat sekere soorte graan nie deur die Russiese koringluis aangeval word nie.
Sy het haar PhD in 2014 verwerf – en het sedertdien reeds twee ander nadoktorale kontrakte geniet. Die eerste was in die Departement Genetika (weer eens op graan) en die ander in bio-informatika aan die US onder leiding van prof. Hugh Patterton. In dié tyd het sy op die genetika van sekere giste, medisinale plante en weer eens weerstandige koring gewerk, en saam met die WNNR gehelp om 'n metagenomiese studie te analiseer en die biodiversiteit van mikro organismes in rioolwater te toets. Haar nadoktorale werk het ook dikwels gepaard gegaan met die aanbied van lesings.
Oor die afgelope dekade of wat het dr. Bierman ook as 'n senior navorsingsassistent by die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort-kampus gewerk, en as navorser verbonde aan AgriProtein Technologies, 'n maatskappy wat op insekboerdery en die ontwikkeling van werkbare verwante produkte fokus.
“My nadoktorale werk mag op die eerste oogopslag lyk na 'n vreeslike 'mixed bag' van navorsingsonderwerpe wat wissel van nuwe generasie geenvolgordebepaling en die genetiese kartering van graan tot by indringerkewers," erken dr. Bierman. “Onderliggend aan al hierdie onderwerpe is egter my fassinasie met organismes se genetiese kode, en 'n passie om nuwe vaardighede en kennis op te doen. Dit het my ook die kans gegee om van die beste mense in my veld te leer ken, en my passies te kan nastreef." So het sy oor die jare haarself onder meer as 'n gesertifiseerde projekbestuurder gekwalifiseer, “Dit help my werklik baie om verskillende projekte gelyktydig te kan hanteer".
Tans word haar nadoktorale posisie befonds deur die Sentrum vir Indringerbiologie, wat aan die US gebaseer is.