Skip to main content
'n Dag in die lewe van: Joy Petersen

'n Dag in die lewe van: Joy Petersen

Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
16 Mei 2022

​Die oorgang van skool na universiteit is dikwels 'n moeilike een. Maar danksy Joy Petersen en haar span van 600 studenteportuurleiers, ontvang die Universiteit Stellenbosch (US) se eerstejaars die nodige ondersteuning om by hulle nuwe akademiese en leefomgewing aan te pas. Joy bestuur die afgelope 5½ jaar die Universiteit se portuurmentor-studenteleierskapsprogram en dien terselfdertyd as hoof van die koshuis Nerina.

Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Ons het Joy gevra om ons meer van haar werk te vertel.

Wat behels jou rol by die US?

Ek werk in die Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG), waar ek twee rolle het. My primêre rol is dié van mentor en tredhoukoördineerder, waarvoor ek die portuurmentor-studenteleierskapsprogram ontwerp, fasiliteer en koördineer. Dít verg aansienlike samewerking met verskillende gemeenskappe en fakulteite. Ons het sowat 600 studenteportuurleiers by die US wat opgelei is om ongeveer 4 000 nuwelinge se aanpassing te fasiliteer en te bemiddel, en hulle oorgang van die sekondêre tot die tersiêre onderwysomgewing te vergemaklik. Ons mentormodel is gegrond op 'n ​relasionele benadering van aandagtig luister, 'n bewustheid van emosionele intelligensie, en sosiale en spansamehang. So, ek doen al daai lekker emosionele dinge met die studente!

My sekondêre rol is dié van inwonende hoof van Nerina. Ek deel 'n leef- en leerruimte met sowat 250 vrouestudente, waaronder voornemende onderwysers, maatskaplike werkers, rekenmeesters, ingenieurs, wetenskaplikes, prokureurs en dies meer.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

Dit is moeilik om 'n tipiese dag te beskryf, want die koshuisruimte verander gedurig. My dag kan om 02:00 begin met 'n student wat dringend hospitaal toe moet gaan, of dit begin dalk om 07:00 met 'n verfrissende stappie by Coetzenburg voor werk. Ek's bevoorreg om heelwat outonomie oor my werk by die SSG te hê, so ek het ruimte om kreatief te wees in my pligte, met kollegas saam te werk, en bande met studente te smee.

Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei?

Ek het BCom aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) studeer, wat my in die korporatiewe wêreld laat beland het. Daar het ek 'n ruk lank in die finansiesdepartement van een van die land se grootste kleinhandelmaatskappye gewerk. Nietemin was die roetine en voorspelbaarheid van die werk nie vir my nie. Ek het bedank en weer voltyds aan die UWK gaan studeer, waar ek toe 'n Nagraadse Onderwyssertifikaat behaal het. Daarna het ek by twee verskillende hoërskole skoolgehou terwyl ek my honneurs- en magistergraad in die Opvoedkunde aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het. Voordat ek my by die US aangesluit het, was ek in 'n pos waar ek matrikulante by kolleges vir verdere onderwys en opleiding, universiteite, in internskappe en oorbruggingsprogramme geplaas het.

Ek reken die korporatiewe wêreld het my geleer hoe om professioneel te wees, verhoudings te bou en groot te dink. En die onderwys het my geleer om nederig te wees, te luister, en selfbeheersing en humor aan die dag te lê, wat ek daagliks in my interaksies en skakeling met kollegas en studente gebruik.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Om te sien hoe studente persoonlik ontwikkel! My werk bied my die voorreg om studente se drome te help koester en tot hulle groei by te dra.

​Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag?

Ek het die afgelope paar jaar nogal 'n liefde en waardering ontwikkel vir die klassieke en mistieke digters – TS Elliot, Rumi, Mary Oliver, Maya Angelou en Yeats. Ek werk tans aan my PhD in die Opvoedkunde, en tussendeur verslind ek digbundels.

Fotograaf: Stefan Els