
Multidissiplinêre span van US ontwikkel prototipe van ’n ekovriendelike windleser
'n Multidissiplinêre span van vier nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch (US) het met 'n prototipe van 'n ekovriendelike windleser vorendag gekom waarmee hulle R10 000 losgeslaan het in die SDG-Challenge South Africa 2023, wat deur Soapbox South Africa aangebied is.
Die oorhoofse oogmerk van die uitdaging is om die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (die sogenaamde SDG's) te bevorder. In dié tweede aflewering van die jaarlikse wedstryd het spanne van verskeie Suid-Afrikaanse universiteite meegeding om innoverende en volhoubare oplossings vir algemene sake-uitdagings te bedink en te ontwikkel.
Die lede van die US-span was Sungeni Karonga (MPhil in Volhoubare Ontwikkeling; verbonde aan die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange), Asmaa Tbaeen (PhD in Wiskunde), Mayur Rabadia (MIng in Elektriese Ingenieurswese) en Joseph Muthuli (MSc in Wiskunde). Die vierstuks moes na 'n praktiese oplossing vir 'n probleem van die brandstofdepot Burgan Cape Terminal (VTTI) soek.
Burgan Cape Terminal (VTTI) in die Kaapstadse hawe ontvang, stoor en versprei brandstof en vervul 'n kernrol om die land van 'n stabiele brandstofvoorraad te voorsien. Windlesers is van kernbelang vir dié onderneming se werk deur hulle van weerinligting – windspoed en -rigting, lugvoggehalte en temperatuur – te voorsien.
Nogtans word windlesers gewoonlik van plastiek, metaal, brons en yster gemaak, sê Sungeni. “Hierdie materiale roes vinnig en is niebioafbreekbaar en dus onvolhoubaar. Daarom het dit duidelik geword dat ons aan maniere moes dink om 'n windleser sonder hierdie materiale te skep," verduidelik sy.
“Deur 'n ekovriendelike windleser te skep, kon ons Burgan Cape Terminal help om hulle belofte van volhoubaarheid en veiligheid teenoor hulle gemeenskap, kliënte en personeellede gestand te doen. En om in hulle kragbehoeftes te voorsien, het ons hulle boonop 'n omgewingsvriendelike en maklik toeganklike sonkragoplossing gebied," voeg Sungeni by.
Die US-span het in oorleg met Burgan Cape Terminal (VTTI) en die maatskappy se ingenieur- en bedryfspanne gewerk om die prototipe te ontwikkel, wat 'n verwagte gebruiksduur van vyf tot sewe jaar sal hê. Soapbox South Africa het die US-studente lukraak gekies en gewerf aan die hand van die kriteria wat Burgan Cape Terminal (VTTI) voorsien het.
Elke spanlid het hulle bepaalde spesialiskennis gebruik om tot die uitdaging by te dra. “My doel was om vorendag te kom met 'n oplossing vir akkurate windmetings, en daarom het ek 'n 3D model van 'n elektroniese stroombaan vir windmetings ontwerp, terwyl die ander groeplede op die volhoubaarheid en duursaamheid van die produk gekonsentreer het," sê Mayur. “En uiteindelik het die verskillende lede se navorsing goed by mekaar aangesluit."
Spanne is beoordeel op grond van hulle oplossings se lang- en korttermynimpak op die SDG's, innovasie, oorspronklikheid, volhoubare impak, tegniese uitvoerbaarheid, skaleerbaarheid en ekonomiese lewensvatbaarheid.
Volgens Amelia Francis, Soapbox South Africa se spanleier vir Bedryfsontwikkeling, is die uitdaging bedoel “om studente en organisasies aan betekenisvolle sake te laat saamwerk, en innovasie aan te moedig om organisasies se werklike praktiese uitdagings die hoof te bied" – alles teen die agtergrond van die Verenigde Nasies se SDG's. “Die spanne is deur die hele uitdaging aangemoedig om hulle idees in realistiese, gegronde oplossings te omskep en sodoende tot 'n beter toekoms by te dra," voeg Amelia by.