Skip to main content
Meer volhoubare praktyke nodig in konstruksiebedryf

Meer volhoubare praktyke nodig in konstruksiebedryf

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
26 Mei 2022

Die verbetering van die volhoubaarheid van aktiwiteite in die konstruksiebedryf is die sleutel om die nadelige impak van dié bedryf op die omgewing te temper. Maar vir dit om te gebeur, moet belanghebbers in die bedryf meer entoesiasties wees om volhoubare praktyke in hul projekte te aanvaar en te implementeer.

Só meen navorsers in die Departement Bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch. Ralmar Marsh, prof Alan Brent en prof Imke de Kock het ʼn studie onderneem oor hindernisse vir en aandrywers van volhoubare konstruksiepraktyke vir belanghebbers in die konstruksiebedryf. Hulle het beroepslui in die bedryf gevra om vraelyste te voltooi oor die behoefte om hul vermoë, geleentheid en motivering te verbeter om die aanvaarding van volhoubare konstruksiepraktyke te fasiliteer.

Die bevindings van hul studie is onlangs in die Journal of the South African Institution of Civil Engineering gepubliseer.

Die navorsers sê daar is ʼn behoefte om die huidige gedrag van belanghebbers in die konstruksiebedryf te verander om die volhoubaarheid van die bedryf te verseker deur volhoubare alternatiewe dwarsdeur die lewensiklus van konstruksieprojekte te aanvaar.

“Die konstruksiebedryf is in ʼn unieke posisie om waarde te skep deur die lewensgehalte van die gemeenskap te verbeter en daardeur positief tot volhoubare ontwikkeling by te dra. Om die aanvaarding en implementering van volhoubare praktyke in die konstruksiebedryf te verbeter, moet die verandering in belanghebbers se gedrag en die prosesse wat hierdie verandering ondersteun, oorweeg word."

Volgens die navorsers het die oorsigresultate daarop gedui dat motivering ʼn rol speel in die bepaling van die waarskynlikheid dat deelnemers volhoubare ontwikkeling sal oorweeg.

“Deelnemers het gevoel dat belanghebbers in die konstruksiebedryf hul huidige gedrag moet verander en volhoubare alternatiewe tot ontwerp- en konstruksiemetodes en -prosesse moet aanvaar. Hulle het aangedui dat volhoubare ontwikkeling voordelig vir hul loopbaanontwikkeling sal wees en dat dit op lang termyn ʼn voordelige impak op die ekonomie, die omgewing en die gemeenskap kan hê."

Deelnemers het ook saamgestem dat as hulle die vaardighede gehad het, hulle volhoubare konstruksie sou toepas. Hulle het onderneem om hul kennis oor en vaardighede rakende volhoubare konstruksie te ontwikkel en onderrig en opleiding daarin aan te moedig.

“Hulle wou voorts hê die regering moet volhoubare konstruksie ondersteun en aanmoedig deur aansporings, belastingverligting, subsidies en toegang tot befondsing vir projekte wat volhoubare beginsels en praktyke inkorporeer."

Die navorsers wys daarop dat die belangrikste hindernisse vir en aandrywers van volhoubare ontwikkelingspraktyke bewustheid en kennis van en inligting oor volhoubare ontwikkeling insluit, asook belangstelling daarin en ʼn vraag na die aanvaarding daarvan; die beskikbaarheid van opleiding en toegang tot onderrig oor maatskaplike konstruksie; gedragsverandering; invloede van eweknieë in die bedryf; vertroue in die implementering daarvan; ekonomiese faktore; persepsies daarvan; en maatskaplike voordele van die aanvaarding van volhoubare ontwikkeling.

Aanbevelings

In hul studie doen die navorsers ook ʼn paar aanbevelings aan die hand wat die aanvaarding en implementering van volhoubare konstruksie kan help fasiliteer.

“Organisasies moet belanghebbers toegang tot onderrig, opleiding en vaardigheidsverbetering deur professionele ontwikkelingskursusse bied om hul bewustheid, kennis en vaardighede te verbeter, hul gedrag te beïnvloed en hul vertroue in die implementering van volhoubare konstruksiepraktyke te versterk. Volhoubare konstruksiestrategieë en interne beleide moet ontwikkel word om die organisasie se aanbod binne die bedryf verder te versterk.

“Beleide en wetgewing wat die aanvaarding en implementering van maatskaplike konstruksie beheer, moet voorts ontwikkel en deur die regering gereguleer word om die behoefte te benadruk om die huidige trajek van die konstruksiebedryf te verander.

“Finansiële en markgebaseerde aansporings sal organisasies verder aanmoedig om beste praktyke met betrekking tot volhoubare konstruksie binne die bedryf te aanvaar."

Die navorsers sê tersiêre instellings het ook ʼn rol te speel in die bereiking van die doelwitte van volhoubare ontwikkeling in die konstruksiebdryf. “Die integrasie van volhoubaarheid as deel van die voorgraadse kurrikulum en nagraadse studies in hoëronderwys is nodig om volhoubare ontwikkeling in die beboude omgewing te bevorder. Dit sal verseker dat graduandi bewus is van hul etiese en maatskaplike verantwoordelikheid jeens die omgewing en die welstand van die gemeenskap."

  • Bron: Marsh RJ, Brent AC, De Kock IH, 2021. “Understanding the barriers and drivers of sustainable construction adoption and implementation in South Africa: A quantitative study using the Theoretical Domains Framework and COM-B model." Journal of the South African Institution of Civil Engineering. doi.org/10.17159/2309-8775/2021/v63n4a2

​Foto deur Troy Mortier by Unsplash