Skip to main content
Maties wen goud, silwer en brons by Paralimpiese Spele

Maties wen goud, silwer en brons by Paralimpiese Spele

Pia Nänny
11 September 2016

​Dit was goud, silwer en brons vir drie Maties Parasport-atlete by die Paralimpiese Spele in Rio hierdie naweek.

Charl du Toit, wat besig is met sy honneursgraad in onderwysbestuur aan die Universiteit Stellenbosch (US), het die T37 100m-kroon verower nadat hy die vorige dag in die uitdun sy eie wêreldrekord verbeter het.

Du Toit het Saterdag die tweede van twee uitdunne in 'n tyd van 11.42 sekondes gewen en daarmee sy eie wêreldrekord wat hy vroeër vanjaar in Switserland opgestel het met 0.01 sekonde verbeter.

Dit is Du Toit se eerste goue medalje by 'n groot byeenkoms en tot die kommentators het melding gemaak van die glimlag op sy gesig terwyl hy die afstand afgelê het.

"Daar is geen woorde om te beskryf hoe dankbaar ek is nie. Alle eer aan God. Dit was ook ’n voorreg om Fanie se laaste wedloop saam met hom te hardloop. Hy is 'n legende en een van my rolmodelle. Ek het voor, tydens en ná die wedloop net soveel vreugde ervaar," het Du Toit gesê.

Hy sal Donderdag 15 September aan die uitdunne van die 400m deelneem.

Fanie van der Merwe, Du Toit se oefenmaat en tweemalige verdedigende Paralimpiese kampioen in die T37 100m, het brons gewen.

Dit was Van der Merwe se laaste wedloop. Hy het drie Paralimpiese goue medaljes in sy atletiekloopbaan verower – twee in Beijing (T37 100m en 200m) en een in Londen (T37 100m).

"Wat 'n voorreg om my loopbaan op só 'n hoogtepunt te eindig. Ek het soveel vreugde ervaar. Hierdie hele ervaring was ’n geskenk van God."

'n Derde atleet uit die kerngroep wat deur dr Suzanne Ferreira van die Departement Sportwetenskap aan die US afgerig word – Ilse Hayes – het silwer in die T13 100m-finaal verower. Die wedloop is gewen deur Leilia Adzhametova van die Oekraïne in ’n wêreldrekordtyd van 11.79 sekondes. Hayes se tyd was 11.91 sekondes.

"Wat 'n spesiale dag. Ek is dankbaar teenoor God vir Sy genade. Die ereronde saam met Charl en Fanie – vriende en spanmaats – was 'n fantastiese oomblik. Aan my afrigter, Suzanne (Ferreira), kan ek net sê: Jy is ongelooflik en ek waardeer jou so baie."

Nog ’n Matie, Arnu Fourie, het Saterdag vierde in die 100m (T44) geëindig.

Sean Surmon, hoof van Maties Sport se Hoëprestasie-eenheid, het gesê hy voel baie bevoorreg om deel van hierdie atlete se ondersteuningspan te kon wees.

"Dit was vier jaar se harde werk, toewyding en 'n aardige hoeveelheid deursettingsvermoë en dit het fantastiese resultate opgelewer!"

Wentzel Barnard, bestuurder van die Maties Parasportklub, is ongelooflik trots op hierdie atlete, en so ook Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport.

"Ten spyte van hierdie atlete se verskillende gestremdhede het hulle lank gelede besluit om nie hul toekoms aan die noodlot oor te laat nie, maar om ongelooflik hard te werk om die suksesse te behaal wat hulle behaal het.

"Hulle sukses het nie per toeval gebeur nie. Hul afrigters, die Maties Hoëprestasie-span, familielede en vriende het hulle ondersteun om hierdie wêreldklasresultate te behaal. Individueel moes elkeen van hulle diep delf, die regte besluite neem en hul man staan om hul onderskeie medaljes te wen.

"My respek vir hulle is onbeskryflik en die US en Maties Sport bedank hulle en hul afrigters dat hulle sulke uitstekende ambassadeurs is."

Fotokrediet: Wessel Oosthuizen, SASPA