Skip to main content
Maties tevrede met USSA-prestasies

Maties tevrede met USSA-prestasies

Maties Sport
12 Julie 2016

​Die meeste van die Universiteit Stellenbosch se sportspanne het daarin geslaag om in die topdrie te eindig in die onderskeie USSA-kompetisies wat verlede week plaasgevind het, met die Steinhoff Maties Hokkie-mansspan, Maties Fietsry en Maties Gimnastiek wat goud huis toe gebring het.

Die hokkiemans het die Universiteit van Pretoria (Tuks) in 'n strafdoel-uitklop in die finaal geklop.

“Die goue medalje by USSA beteken baie. Ons het baie harde werk ingesit hierdie seisoen; veral by ons voorbereidingskamp wat die toernooi voorafgegaan het. Ons het die laaste paar jaar onderpresteer by USSA. Om uiteindelik die goue medalje te wen, is 'n fantastiese gevoel,” het kaptein Dylan Swanepoel gesê.

Maties se Keenan Horne is as speler van die toernooi en Rob McKinley as doelwagter van die toernooi aangewys. Lees meer.

Die Maties Hokkie-vrouespan het derde geëindig nadat hulle die Kovsies 4-2 in die bronsmedalje-uitspeelwedstryd geklop het.

Maties Fietsry het sy USSA-titel suksesvol verdedig. Die span het die kompetisie oorheers deur die geeltrui, groentrui, spanklassifikasie, alle heetkolle ("hot spots") behalwe een, sowel as al die skofte behalwe een, in die padwedrenkompetisie te wen. Lees meer.

Maties Rugby het silwer gewen nadat hulle 21-17 teen Tuks in die finaal verloor het, terwyl Maties Branderplankry sy prestasie van verlede jaar geëwenaar het deur tweede te kom in die kompetisie wat by Victoriabaai gehou is.

In die pluimbal- en muurbal-kompetisies het die Maties-A- spanne silwer in hul afdelings verower terwyl albei B-spanne goud in die B-afdelings gewen het. 

Die muurbalspelers Daniel Smith, Aubrey Lawrence en Ashleigh Scheepers is in die USSA-Top-6-span ingesluit en Aubrey is ook geïdentifiseer as die speler wat die meeste verbeter het.

Maties Netbal was vierde ná die span net-net teen Kovsies (44-42) in die uitspeelwedstryd vir die bronsmedalje verloor het.

Die Maties Basketbal-manspan het sesde (uit 16 spanne) in sy eerste USSA-toernooi geëindig en sodoende vir die Varsity Sports-toernooi gekwalifiseer. Die vroue het in die 11de plek geëindig. Lees meer.

“Ek wil al ons Universiteit Stellenbosch-atlete, -spanne, -afrigters en die -ondersteuningspersoneel gelukwens met hul uitstekende prestasies by die verskeie USSA-kompetisies verlede week,” het Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, gesê.

“Ons prestasieteikens sluit onder meer in om in die top-3 op alle vlakke te wees, en ons is daarom baie trots op al ons deelnemers en sien uit daarna om volgende jaar selfs beter te doen.”

Foto: Steinhoff Maties Hokkie-spanne