Skip to main content
Maties se Wylie aangewys as USSA-krieketafrigter

Maties se Wylie aangewys as USSA-krieketafrigter

Maties Krieket / Maties Cricket
08 Maart 2016

Steinhoff Maties Krieket se afrigter Andrew Wylie is aangestel as die USSA-afrigter vir die komende CSA Future-toernooi in Kimberley en die driehoekige reeks tussen KSA Akademie, USSA en Sri Lanka Akademie later in die jaar.

Wylie is al twee keer, onder meer in 2015, as Maties Sport se spanafrigter van die jaar aangewys en erken dat die USSA-posisie een was waarvoor hy gehoop het.

"Ek moet eerlik wees. Ek het gehoop ek sou in aanmerking kom vir die posisie, maar was nooit regtig seker wie aangestel sou word nie. Dit is natuurlik 'n baie groot eer en 'n uitstekende geleentheid en gee my die vertroue dat ek op die regte pad is met die manier waarop ons dinge hier by Maties doen."

Daar is Maties in albei groepe. Brandon Glover, Kyle Simmonds en Soyisile Pono is gekies vir die Futures Cup-span, terwyl die kaptein Dewald Botha vir die USSA-span gekies is.

Wanneer dit kom by verwagtinge en doelwitte, wil Wylie eerder wag en sy spanne ontmoet voordat hy enige voorspellings waag.

"Ek het nog nie baie daaraan gedink nie, want daar wag nog 'n belangrike tyd hier by Maties en ek fokus nou eers daarop. Die sleutel sal altyd wees om 'n omgewing te skep waarin die spelers wat betrokke is hul ware potensiaal kan vertoon en hopelik die toernooi wen. Ek wil graag aan die spelers benadruk hoe groot kans dié geleentheid vir hul loopbane is."

Dit is nie die eerste keer wat Wylie die USSA-span afrig nie. In 2008 het hy die studente op 'n Britse toer geneem waar hulle teen die Britse Universiteite en Engeland o.19-span gespeel het.

"Ons het 'n lekker groep jong studente gehad en baie het lang provinsiale loopbane gehad; een het selfs al die Proteas verteenwoordig."

Fotograaf: Outsider Communications