
Maties Rugby gereed vir Varsitybeker-reeks
Dit is langer as wat enige ondersteuner van Maties Rugby wat sy sout werd is sal wil erken sedert die laaste keer wat Maties die gesogte Varsitybeker-titel gewen het.
Maties het die eerste drie toernooie – in 2008, 2009 en 2010 – gewen en drie keer sedertdien in die eindstryd gespeel (2012, 2013 en 2016). Verlede jaar het Maties tuis in die eindstryd teen Pukke verloor.
Die span se eerste wedstryd vanjaar vind Maandag 30 Januarie teen Tuks in Pretoria plaas.
Maties se heelagter, Craig Barry, wat verlede jaar as agterspeler van die Varsitybeker-reeks aangewys is, speel vanjaar in sy vyfde Varsitybeker-reeks.
"Ons wil natuurlik graag die Varsitybeker wen, maar ons doel is ook om 'n verskil te maak. Die harde werk en ure se sweet op die veld sal hopelik lei tot die soort rugby wat mense geniet om te kyk en wat sal verseker dat hulle terugkom vir meer. Ons span se grootste waarde is: 'Dit is groter as ons'. Ons werk regtig hard op die oefenveld en ek hoop ons kan vanjaar 'n tree verder gaan ... nie net vir ons nie, maar vir almal wat ons so passievol ondersteun!"
Een van die spelers wat 'n groot impak in sy eerste seisoen vir Maties gemaak het, Edwill van der Merwe, jeuk om aan die gang te kom in sy tweede Varsitybeker-toernooi.
"Ek sien uit daarna om weer vir Maties op die veld te wees. Maar eerste dinge eerste. My plek in die span is nie 'n uitgemaakte saak nie en ons het goeie diepte vanjaar, so ek werk hard in die veld- en oefensessies om seker te maak dat ek my kans kry. Om weer die maroentrui oor my kop te trek, sal wonderlik wees. Om vir Maties te speel, is soos om saam met jou beste vriende te speel. Ek kan ook nie kan wag om die skare by ons eerste tuiswedstryd in die Danie Craven-stadion te sien nie!"
Maties se eerste tuiswedstryd is op 6 Februarie teen Wits. Kaartjies is beskikbaar op www.webtickets.co.za of kan van Maandag 30 Januarie tot Vrydag 4 Februarie, van 09:00 tot 16:00, by die Coetzenburg-klub by die Danie Craven-stadion gekoop word. Seisoenkaartjies kos R150 vir die oop pawiljoen (onbespreek), R200 vir die hoofpawiljoen (onbespreek) en R250 vir die hoofpawiljoen (bespreek).