Skip to main content
Maties Parasport vier dekade van uitnemendheid

Maties Parasport vier dekade van uitnemendheid

Pia Nänny
08 November 2016

Die Maties Parasport-klub het onlangs 'n dekade van sukses gevier met 'n spesiale funksie wat op Stellenbosch aangebied is.

Die gaste het verskeie van die klub se Paralimpiese sportlui en afrigters ingesluit wat vir hul bydrae tot die klub se sukses vereer is, asook diensverskaffers wat die sportlui en klub bystaan.

Die Maties Parasport-klub is in 2006 gestig en fokus daarop om sportkodes wat op Paralimpiese vlak aangebied word, te ontwikkel en te bevorder.

"Die klub se missie is om aan die sportbehoeftes van persone met gestremdhede te voldoen en om sportgeleenthede vir hulle te skep," sê Wentzel Barnard, bestuurder van die Maties Parasport-klub.

Sportsoorte wat deur die klub bevorder word, is atletiek, swem, doelbal, rolstoelrugby, fietsry en handfietsry. Maties Parasport is ook een van die sportklubs by die Universiteit Stellenbosch (US) wat deur Maties se Hoëprestasie-eenheid ondersteun word.

"Die klub het die afgelope tien jaar van krag tot krag gegaan, en die Paralimpiese Spele in Rio vanjaar was beslis 'n hoogtepunt. Altesame 15 lede van die Maties Parasport-klub het na Rio gereis en hulle het 11 van Suid-Afrika se 17 medaljes verower," voeg Barnard by.

Die klublede sluit Paralimpiese veterane soos Ernst van Dyk, Ilse Hayes, Fanie van der Merwe, Arnu Fourie en Zanele Situ in.

Suid-Afrika se beste prestasie in Rio is gelewer deur Charl du Toit, 'n ingeskrewe student aan die US, wat twee goue medaljes gewen het en 'n wêreldrekord in die een item (100m T37) en 'n Paralimpiese rekord in die ander item (400m T37) opgestel het. Hy is ook onlangs as Maties se Parasport-sportman van die Jaar aangewys.

Erelidmaatskap is op die aand aan Anette Barnard toegeken vir haar jare lange betrokkenheid by sport vir persone met gestremdhede, sowel as aan dr Mike Burns en sy vrou Karin vir hul bydrae tot die ontwikkeling van 'n fietsryliga vir persone met gestremdhede in die Westelike Provinsie. Dr Burns is ook op nasionale vlak by Para-fietsry betrokke.

Maties se rolstoel-rugbyspelers wat by SA Rugby se hoëprestasie-groep ingesluit is, het ook erkenning ontvang. Fizel de Vries is as die mees toegewyde speler aangewys en Raven Benny is die speler van die jaar.

Die Afrikaanse sanger Kevin Leo was die seremoniemeester van die aand en die gasspreker was Bennie Louw.

Onderskrif:

Parasport-klublede Anika Pretorius, Dyan Buis, Ilse Hayes, Anruné Liebenberg, Roxy Burns, Charl du Toit en Fanie van der Merwe by Kate Allwood. Kate is doof gebore en was een van die jongste pasiënte om kogleêre inplantings te kry. 

Fotokrediet: Francois Lombard