
Maties open moderne, veeldoelige sportfasiliteit by Tygerberg-kampus
Maties Sport het onlangs die opgradering van sportfasiliteite by die Tygerberg-kampus geprioritiseer. Dit is in ooreenstemming met die strategiese doelwit om toegang tot 'n diverse ontspannings- en aktiewe leefstylprogram vir studente, personeel en die gemeenskap te bied.
Onder leiding van die Fasiliteitsbestuurspan maak die Tygerberg Veeldoelige Sportfasiliteit-projek voorsiening vir verskeie sportsoorte, wat tennis, netbal, basketbal, pluimbal asook ander ontspanningsaktiwiteite insluit. Die projek is op 21 Februarie van stapel gestuur, en het in Maart 2022 in werking getree.
"Hierdie fasiliteit bied aan almal die geleentheid vir 'n verbeterde diens- en programlewering, insluitend geleenthede vir ons studente en personeel, ons omliggende gemeenskappe, en ook vir inisiatiewe soos byvoorbeeld die speel van wedstryde vir plaaslike ligas, asook verdere programme wat gemik is op die gemeenskap as geheel," het Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur van Maties Sport tydens die amptelike opening van die fasiliteit gesê.
“Maties Sport bly daartoe verbind om geleenthede te bied om deelname aan ontspanningsaktiwiteite te verbeter, en sodoende by te dra tot die aanmoediging van 'n aktiewe leefstyl. Hierdie fasiliteit bied aan ons studente en personeel die geleentheid om 'n gesonde balans tussen hul akademiese studies en hul deelname aan ontspanningsport te handhaaf," het Groenewald gesê.
Verskeie ander sprekers by die openingsgeleentheid het die belangrikheid van hierdie werk-leef-balans beklemtoon.
“Vryetyd is belangrik. Werk-leef-balans is belangrik, want dit is 'n werklikheid dat mense uitbrand. Ons het die afgelope twee jaar heelwat meer hiervan gesien, veral in die geval van ons gesondheidsorgpersoneel. Dit is absoluut noodsaaklik vir elkeen se algehele gesondheid en welstand om daardie balans te vind, en om tyd hier buite op hierdie wonderlike sportgeriewe deur te bring," het die Rektor en Visekanselier, prof Wim De Villiers, by die bekendstelling van die nuwe fasiliteit gesê.
Tygerberg Kampus se Sportadministrateur, Yaseen Gangat, het ook sy dankbaarheid uitgespreek ten opsigte van die nuwe fasiliteit. “Dit sal gebruikers in staat stel om na-ure aan ontspanningsaktiwiteite deel te neem – en dit is noodsaaklik as 'n mens die besige skedule van ons studente op hierdie kampus in ag neem. Hierdie uitbreiding van fasiliteite sal besonder voordelig wees vir beide die studente, asook vir die breër gemeenskap," het Gangat gesê.
“In die eerste week wat hierdie fasiliteite oop was, het meer studente as ooit tevore hiervan gebruik gemaak ten alle tye van die dag. Ek dink baie mense het onvergeetlike ervarings op hierdie bane, en ek hoop dat dit die begin van groot dinge vir sport op die Tygerberg-kampus is," het Wandile Mokhele, Sportbestuurder van die Tygerberg Studenteraad bygevoeg. Hy het beklemtoon dat die fasiliteit 'n groot verskil aan die fisiese en geestelike gesondheid van studente sal maak.
“Vir ons as studente is sport ongelooflik belangrik. Dit is nie bloot vir ons fisiese welstand nie, maar dit gaan ook oor geestelike welstand. Ek kan persoonlik sê dat sport 'n integrale deel van my lewe is, en dit het my in staat gestel om op my akademiese studies te konsentreer wanneer dit nodig was, maar dan terselfdertyd ook op my algehele welsyn te kon fokus. As jy nie na alle aspekte van jou welsyn omsien nie, kan jy nie werklik floreer nie," het Caitlin Sithole, 'n Maties Sport vrouesokkerspeler en MBChB-student gesê.
Dit is gepas dat die Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe die laatse woord gehad het. "Jy kan nie in 'n loopbaan soos geneeskunde sukses behaal en ook die gepaardgaande uitdagings die hoof bied wat ons elke dag met pasiënte en pasiëntesorg ondervind, as jy nie een of ander manier gevind het om af te skakel daarvan en 'n gebalanseerde lewe te lei nie. Dit is belangrik vir ons almal, en ons doen dit almal op verskillende maniere, maar sport is so 'n groot deel hiervan. Daarom is ek baie opgewonde dat ons hierdie pragtige fasiliteit het wat 'n verdere geleentheid vir ontspanning sal skep vir die baie studente wat op die kampus woon of werk. Ek hoop dat hierdie fasiliteite in die toekoms 'n plek van genot, pret en geluk asook vele sosiale geleenthede sal wees," het sy afgesluit.