Skip to main content

Maties maak 'n verskil tydens verwelkomingsweek

Michelle Pietersen
26 Januarie 2017

Sowat vyf duisend nuwe studente word elke jaar by die Universiteit Stellenbosch verwelkom. Die verwelkoming, ʼn jaarlikse tradisie, skop af in verwelkomingsweek en stel studente bloot aan ʼn goed gebalanseerde studentelewe. ʼn Sosiale Impak-oggend is deel van die verwelkomingsprogram. Vanjaar neem studenteverenigings en klusters saam met koshuise en PSO's deel aan die aktiwiteite.

Die program begin op 26 Januarie 2017 van 09:00 tot 12:00, waartydens sommige koshuise buite die kampus verskeie inisiatiewe in plaaslike gemeenskappe sal ondersteun. As deel van hierdie inisiatiewe sal ʼn koshuis soos Huis ten Bosch na die Legacy-gemeenskapsprojek in Kayamandi gaan om geboue te verf saam met lede van die gemeenskap. Party koshuise besoek hul onderskeie vennote in die gemeenskap om aan aktiwiteite deel te neem, terwyl ander koshuise op kampus bly en deelneem aan inisiatiewe soos die maak van toebroodjies, insameling van skryfbehoeftes, optel van rommel en die verf van blikkies.

Hoewel die akademiese program by Tygerberg-kampus reeds aan die gang is, neem dié studente ook deel aan inisiatiewe op en buite die kampus. Aangesien Tygerberg die mediese kampus is, fokus die Osler Privaat Studente Organisasie (PSO) daarop om die omgewing in Tygerberg-hospitaal te verbeter deur potplante te versier en dankiekaartjies te maak. Die Hippokrates-koshuis gaan met ʼn kuns-en-kultuursessie by die Primêre Skool Northway erkenning gee aan hoe belangrik onderwys is.

ʼn Ekstra geleentheid word op kampus beplan vir studente wat nog nie by enige inisiatiewe betrokke is nie. Die UNASA-studenteorganisasie reël in samewerking met Matie Gemeenskapsdiens (MGD) en KANSA ʼn Shavathon om almal te verwelkom. Dit vind plaas voor Simonsbergkoshuis en duur die hele oggend. Daar is ook pryse op die spel vir koshuise met die beste deelname.

Die doel van die Sosiale Impak-oggend is om nuwe studente bekend te stel aan inisiatiewe vir gemeenskapsontwikkeling en om voort te bou op die kultuur van gemeenskapsinteraksie wat by die Universiteit Stellenbosch bestaan. Sosiale Impak skep hoop en studente word aangemoedig om deur middel van hul koshuise, PSO's, studenteverenigings en fakulteitskomitees betrokke te raak by Sosiale Impak-inisiatiewe sodat hulle ʼn omvattende leerervaring kan geniet. Hopelik sal Sosiale Impak se aktiwiteite dié oggend baie Maties inspireer om betrokke te raak en ʼn verskil te maak.

Vir meer inligting, kontak gerus vir Michelle Pietersen by Matie Gemeenskapsdiens: tel. 021 808 3638 / e-pos [email protected]

Programbesonderhede (soos ten tye van publikasie)

Stellenbosch – Aktiwiteite op kampus
Koshuis/WykVennoot in die gemeenskapAktiwiteit
AuroraRampeenheidDie Rampeenheid bied 'n inligtingspraatjie aan; eerstejaars skenk blikkieskos en versier skoon blikkies vir die eenheid
DagbreekNagskuiling en Stellenbosch-hospitaalBesoek Stellenbosch-hospitaal; maak kos vir die Nagskuiling
Huis VisserVerskeie crèches in KayamandiEerstejaars skenk skryfbehoeftes aan die kinders
ISASankubMaak toebroodjies
NerinaHanna-stigting vir liefdadigheid en bemagtigingTyd vir pret saam met die kinders
OlympusLaerskool AF LouwSpeel speletjies; maak toebroodjies; luister na TED-praatjies

Wimbledon-kluster

Personeellede van Wimbledon-kluster Maak versorgingspakkies en toebroodjies vir verspreiding; doen aktiwiteite en speel speletjies
Silene & HelderbergDie EersterivierRivierskoonmaak; maak toebroodjies met grondboontjiebotter
UNASASimonsbergBied 'n Shavathon ter verwelkoming aan om fondse vir KANSA in te samel
Tygerberg – Aktiwiteite op kampus
MeerhofPlaaslike gemeenskapMaak komberse
OslerTygerberg-hospitaalVersier potplante; maak dankiekaartjies
Stellenbosch – Aktiwiteite buite kampus
Koshuis/WykVennoot in die gemeenskapAktiwiteit
Dagbreek & ErikaThe Ark City of RefugeBesoek die organisasie
Huis ten BoschLegacy-gemeenskapsprojek, KayamandiVerf geboue
GoldfieldsSt. Idas PrimarySpeletjies, sport, etes en verversings
Lydia & EendragLaerskool Rietenbosch, CloetesvilleInteraksie met leerders en opvoedkundige aktiwiteite
Metanoia & VenustiaJoint Aid Management South AfricaVerf preprimêre skole; help onderwysers kosmaak
SimonsbergSt Vincent's Primary, KoelenhofInteraksie met leerders deur sport en speletjies
Harmonie & Oude MolenWonderplant KayamandiPlant bome
Monica & WilgenhofSt Idas Primary Verf klasse; maak 'n strand skoon
Silene Huis van veiligheid Maak versorgingspakkies op vir vroue; 'n bespreking oor die bemagtiging van vroue
AmaMaties KlusterThe Ark: Khayelitsha Vermaak en 'n kort praatjie
Tygerberg – Aktiwiteite buite kampus
HippokratesPrimêre Skool NorthwayKuns-en-kultuursessie met graad 2-leerders
Huis FrancieLaerskool KalkfonteinPlantaktiwiteit saam met graad 3-leerders; leer hulle van volhoubaarheid