Skip to main content
Maties-koor beklee weer boonste plek op wêreldranglys

Maties-koor beklee weer boonste plek op wêreldranglys

Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
04 Maart 2020

​​Die Stellenbosch Universiteitskoor het weer die boonste plek op die gesaghebbende Interkultur Wêreldranglys ingeneem. Interkultur het vandag (4 Maart 2020) die nuutste ranglys bekendgemaak. Die US-Koor beklee reeds sedert 2012 die eerste plek op hierdie ranglys vir amateurkore.

Benewens hul topposisie onder die voorste 1 000 kore in die wêreld, verskyn hulle ook bo-aan die lys in die kategorieë vir Gemengde Kore, vir Geestelike musiek (oftewel Sacred Music & Music of the Religions) – waar hulle die eerste plek deel met die Kamerniy Devichiy Khor by Lysenko van die Oekraïne en die “Pop, Jazz, Gospel, Spiritual & Barbershop Choirs".

Interkultur, 'n internasionale kultuurorganisasie wat veral bekend is vir die reël van die tweejaarlikse Wêreldkoorspele, stel ten doel om individue, nasies en kulture van regoor die wêreld deur middel van sang te verenig.

Dirigent Andre van der Merwe sê die koor se plek op die ranglys maak hom opgewonde. “Ek is baie dankbaar vir my Matie koorlede se toewyding en inspirerende spanwerk. Die prestasie skep natuurlik ook baie hoë verwagtinge vir die koor, maar my uitgangspunt bly dat die musiek die praatwerk moet doen."

Die koor neem vanjaar aan die Wêreldkoorspele in België deel, nadat hulle nie aan die vorige geleentheid – in Tshwane in Suid-Afrika – kon deelneem nie vanweë Van der Merwe se rol as voorsitter van die Wêreldkoorspele se artistieke komitee by die geleentheid.

Die koor is vanjaar ook by die Toyota US Woordfees (6–15 Maart op Stellenbosch) te sien. Hoewel kaartjies vir die etensuurkonserte reeds uitverkoop is, is enkele kaartjies is nog vir die Galakonsert op Donderdag, 12 Maart 2020 om 16:00 beskikbaar. Besoek Computicket om jou kaartjie te bespreek.

Die Stellenbosse Universiteitskoor is die oudste en mees gevierde universiteitskoor in Suid-Afrika. Die koor is in 1936 gestig met William Morris as dirigent.

  • Ten minste drie van die US-koor se liedere het al die miljoen-kerf op YouTube verbygesteek. Dit sluit in Say Something (Christina Aguilera) – 5,5 m, Baba Yetu (Christopher Tin) – 2,6 m en All of Me (John Legend) – 2 m.