
Maties help SA om vir o.21 Wêreldbeker-netbaltoernooi te kwalifiseer
Vier Matie-netbalspelers het verlede week na Botswana gereis om aan 'n kwalifiserende ronde vir die o.21 Wêreldbeker-netbaltoernooi (Netball World Youth Cup) deel te neem.
Suid-Afrika het al sy wedstryde gewen en het dus gekwalifiseer om volgende jaar aan die toernooi deel te neem.
Jo Prins, Stephanie Brandt, Sasha-Lee Petersen en Charmaine Baard is vroeër vanjaar ook by die SA o.21-groep ingesluit wat in 'n toetsreeks teen Wallis gespeel het. Suid-Afrika het al hul wedstryde oortuigend gewen.
Charmaine het die kwalifiserende toernooi as 'n ongelooflike ervaring beskryf.
"Ons het sewe wedstryde gespeel en al sewe gewen. Min spanne kan dit doen en ons voel elkeen geëerd om daarvan deel te kon gewees het. Ons is fisiek en geestelik getoets, en dis wat dit so fantasties gemaak het.
"Die span het baie goed saamgespeel, maar dit was tog lekker om na die speler langs jou te kyk en 'n Matie te sien," het sy bygevoeg.
Die vier staatmakers se deelname aan verlede week se kwalifiserende toernooi het egter beteken hulle was nie beskikbaar om verlede Donderdag (28 Julie) vir hul klub te speel in die Kaapse Wynland-streek se superligafinaal nie.
Vics het teen nóg 'n Stellenbosch-span, Van der Stel, gespeel en met vyf punte verloor. Die eindtelling was 51-46.
Van der Stel is 'n baie sterk span met verskeie voormalige Proteas- en oud-Matiespelers.
Maties Netbalklub is trots op die spelers wat vanjaar by die Southern Stings-, SA o.21- en USSA-groep ingesluit is. Laasgenoemde het in Julie aan die Wêrelduniversiteite-netbaltoernooi deelgeneem en dit gewen.
Die Matiespelers se fokus verskuif nou na die Varsity Netbal-toernooi wat op 5 September begin. Maties het verlede jaar tweede in die kompetisie geëindig.