
Maties gereed vir USSA-kompetisies
Sportspanne van die Universiteit Stellenbosch (US) reis dié naweek na verskeie bestemmings reg oor Suid-Afrika om deel te neem aan USSA-toernooie, terwyl Maties se branderryspan algeheel tweede gekom het in die USSA-kompetisie wat van 22-24 Junie by Victoriabaai aangebied is.
Matiespanne sal die US van 4-8 Julie verteenwoordig in basketbal (Johannesburg), pluimbal (Stellenbosch), fietsry (Potchefstroom), gholf (Port Elizabeth), gimnastiek (Stellenbosch), hokkie (Johannesburg), netbal (Kaapstad), rugby (Oos-Londen) en muurbal (Stellenbosch).
Spanne van die US was verlede jaar die algehele wenners in twee van die toernooie en die naaswenners in drie. Maties Fietsry en Maties Pluimbal het hul onderskeie toernooie gewen, terwyl Maties Branderry, Maties Gimnastiek en Maties Hokkie se vrouespan almal tweede gekom het. Die hokkiemans het in die uitspeelwedstryd vir brons 4-0 teen Kovsies gewen om derde te eindig terwyl Maties Rugby en Maties Netbal albei vierde geëindig het.
Hawies Fourie van Maties Rugby het gesê hulle het realistiese verwagtinge van die USSA-toernooi.
"Maties wil goed presteer in elke wedstryd waarin ons speel. Ons groep van 26 spelers sluit net vier spelers in wat gereeld in ons beginspan tydens die Varsitybeker-toernooi was. Ons gebruik die USSA-toernooi om 'n groep jong spelers blootstelling te gee en te kyk of hulle op die volgende vlak kan meeding."
Paul Revington, Hoëprestasie-bestuurder van Maties Hokkie, het gesê: "Maties wil elke keer wen wanneer die spanne op die veld draf. Dit is belangrik om 'n toernooi soos USSA te wen, maar dit is ook vir my belangrik dat die spelers hul hokkie geniet. Ek is baie opgewonde om te sien hoe die vrouespan gaan vaar. Hulle beskik oor baie talent en het die vermoë om hoë hoogtes te bereik. Daar is ook baie talent in die mansspan, maar dit gaan net resultate lewer as hulle konsekwent is, hard werk en in hulself glo. Ek glo en hoop die span is op die drempel om alles in een toernooi saam te voeg."
Max Sullivan van Maties Fietsry het gesê hul span benader die kompetisie met redelik baie selfvertroue.
"Ons het 'n goeie ondersteuningstruktuur en 'n sterk agtmanspan. Ons het ook vier ryers wat in staat is om die geeltrui te wen. Die doel is om ons titel te verdedig – die spankompetisie en die geeltrui te wen."
Nicky Giliomee, ook van Maties Fietsry, het gesê die twee vroue in die span is bergfietsryers wat nie baie ervaring op die pad het nie.
"Ons het egter hard geoefen en raad en hulp van ons mansspan gekry om 'n beter begrip te kry van hoe padtaktiek werk. Ons is seker ons sal regkom met die hulpbronne en kennis wat ons nou het. Die hoogteverskil gaan definitief 'n uitdaging wees vir ons wat van die see af kom. Ons gaan ons bes doen."
Anri Schonees, kaptein van die Maties Pluimbal-span, het gesê dis altyd moeilik om ’n titel te verdedig omdat daar meer druk op die span is.
"Maar ons is steeds positief en sal ons bes probeer. Verder wil ons net nog mense leer ken en onsself geniet."
Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, het die spanne en deelnemers alles van die beste toegewens vir die komende USSA-toernooie.
"Maties Sport wil 'n dominante posisie in fokussportsoorte op tersiêre, streeks-, nasionale en internasionale vlak behaal en die USSA-kompetisies bied aan ons 'n geleentheid om ons prestasies teen dié van ons eweknieë te meet."
Foto: Maties Hokkie se vrouespan berei voor vir die USSA-toernooi. Fotokrediet: Outsider Communications