
Maties Basketbal skud vere reg vir belangrike wedstryde
Dinge het beduidend vir die Maties Basketbal-klub verander sedert dit onlangs as een van die hoëprestasiesportkodes by die Universiteit Stellenbosch (US) aangewys is.
Onder leiding van die nuwe hoofafrigter Zarko Krkeljas (mansspan) en assistentafrigter Aggrey Ofula (vrouespan), staan albei spanne die kans om vir die Universiteitesport Suid-Afrika (USSA)-toernooi te kwalifiseer. Die belangrike Wes-Kaap kwalifiseringswedstryde (vir sowel mans as vroue) vind komende Vrydag plaas. Maties speel uit vir derde en vierde plek en moet derde in die streek eindig om te kwalifiseer.
(Vervoer na UK Vrydag is vir 'n beperkte aantal ondersteuners beskikbaar. Bespreek hier).
Die basketbalklub het drie spanne: die mans A-span, wat bestaan uit spelers met reeds gevestigde basketbalvaardighede; die mans B-span, 'n ontwikkeling- en ontspanningsgedrewe span vir alle studente wat basketbal wil speel of leer speel, al is dit net vir pret; en die vrouespan wat sowel gevestigde as nuwe spelers verwelkom.
"Basketbal is wêreldwyd 'n gewilde sport en daarom bestaan die klub uit plaaslike en internasionale spelers. Dit is ook 'n uitstekende aanduiding van diversiteit in Maties Sport. Om die bewustheid van basketbal plaaslik aan te wakker, beplan ons om ontwikkelingsprogramme vir die plaaslike jeug sowel as 'n koshuisliga op die been te bring. Hopelik help dit basketbal om nuwe hoogtes as deel van Maties Sport te bereik," het Krkeljas gesê.
"As klub ding ons voortdurend mee teen universiteite met gevestigde basketbalprogramme, soos die Universiteit van Kaapstad en KPUT. As 'n nuwe klubspan word ons altyd as buiteperde beskou. Hoewel ons klub in die verlede aanvaarbare vertonings in die plaaslike liga gelewer het, het ons nooit daarin geslaag om vir die USSA-toernooi te kwalifiseer nie. Dit is een van ons primêre doelwitte."
Krkeljas is in April vanjaar as Maties se afrigter aangestel. "Ek speel my lewe lank al basketbal en was die afgelope ses/sewe jaar as afrigter betrokke in die VSA, Suid-Korea en nou Suid-Afrika. By Maties het ek verlede jaar in Junie as 'n vrywilliger begin toe ek na die US gekom het as 'n nadoktorale navorsingsgenoot in die Departement Sportwetenskap. Met basketbal wat HP-status verwerf het, is daar 'n nuwe stel verwagtinge en doelwitte en daarom is ek permanent aangestel."
Om deel van die HP-program te wees, sal die sport en spelers na 'n nuwe vlak neem, glo Krkeljas.
"As 'n sportwetenskaplike en afrigter glo ek dat die HP-program 'n goed deurdagte en volledige ondersteuningstelsel vir individuele atlete en 'n span as 'n geheel bied. Individuele potensiaal of talent speel 'n belangrike rol om 'n goeie atleet te wees, maar om die studentatleet verder te ontwikkel, is dit nodig om 'n ondersteuningstelsel met afrigters, sportwetenskaplikes en opvoeders te skep. Maties Sport het die raamwerk geskep en noudat ons as 'n basketbalspan toegang tot die dienste het, glo ek dit sal aansienlik tot my spelers se sukses bydra.
"Ek dink dat HP-ondersteuning die spelers en basketbalprogram se potensiaal sal demonstreer. Ek is vol vertroue dat die oorgang beduidende resultate ten opsigte van ons prestasie sal lewer en sal bydra tot die algehele doelwit van Maties Sport om een van die voorste sportprogramme in die land aan te bied."
Alle HP-sporte se oorhoofse doelwit is om 'n top3-klub verskillende kompetisies te wees.
"Ten einde dit te bereik, is ons onmiddellike doel om te kwalifiseer vir die USSA-toernooi. As 'n span na afloop van die toernooi onder die top8-spanne is, kwalifiseer hy vir Varsity Sport (die mans). Ofskoon ek eers halfpad in die kwalifiserende toernooi en ná twee nederlae aangestel is, was ons steeds in staat om ons volgende twee wedstryde te wen. As ons die volgende wedstryd wen, sal ons teen alle verwagtinge – vir die eerste keer in die geskiedenis van Maties Basketbal – kwalifiseer vir die USSA-toernooi."