
Matie neem deel aan NASA onderwater missie
Vyf, vier, drie, twee, een ... Dr Noel du Toit, 'n Universiteit Stellenbosch alumnus, trotseer die diep see op 26 Julie om vir agt dae navorsing op die bodem van die Atlantiese Oseaan te doen as deel van 'n NASA-missie.
Die missie, wat bekend staan as NASA Extreme Environment Mission Operations projek 21 (NEEMO 21), behels die bestudering van menslike/robot interaksie en help met die voorbereiding vir toekomstige ruimte missies. NEEMO missies behels tipies dat drie tot vier ruimtevaarders van NASA, die Europese Ruimte-agentskap (ESA) en die Japannese Ruimte-agentskap (JAXA) sowel as ander vakkenners vir tot drie weke onder water lewe.
Gedurende hierdie missies, fokus die ruimtevaarders (bekend as aquanauts) op die evaluering van gereedskap en tegnieke wat getoets word vir toekomstige ruimte-verkennings. Hulle lewe in gesimuleerde ruimtetuig-omstandighede en doen gesimuleerde ruimte-wandelings (spacewalks) buite hul ondersese habitat (asof hulle op die Internasionale Ruimtestasie is). Die missie vind by die Aquarius onderwater habitat (https://aquarius.fiu.edu/) plaas, 'n onderwater navorsingstasie aan die kus van Key Largo in Florida - die laaste fasiliteit van sy soort in die wêreld.
"Ek gaan wetenskapstake doen wat wissel van DNS-sequencing tot koraal-steekproefneming, sowel as mens-robot interaksie take. My verblyf sluit in vyf ruimtewandelings en habitat-gebaseerde wetenskapstake en menslike fisiologie studies. Hierdie unieke geleentheid maak ook dat ek een van minder as 800 mense regoor die wêreld is wat al só onderwater geleef het," verduidelik Du Toit, wat tans as 'n Assistent-professor in navorsing in Meganiese Ingenieurswese aan die Naval Post Graduate School in Monterey, Kalifornië werk.
Du Toit se fokus is op die ontwikkeling en implementering van maritieme robotstelsels en outonome duikbote. "Ek was nog altyd veral geïnteresseerd in die see, en maritieme robotika is die perfekte manier om my tegniese opleiding aan te wend om 'n bydrae tot die samelewing in 'n direkte en sinvolle manier te maak deur die verskaffing van tegnologie en gereedskap om ons oseane te verken," sê Du Toit.
Hy het buite Pretoria op 'n roosplaas grootgeword, sy graad in Meganiese Ingenieurswese aan Maties voltooi en het in 2003 na die Verenigde State gegaan, waar hy in 2005 'n meestersgraad van MIT en in 2010 'n PhD aan die California Institute of Technology behaal het. "My akademiese fokus was op beheerteorie en robotika, en ek het gewerk op onbemande grondvoertuie (self-ry motors), vliegtuie (quad rotors en vastevlerk UAVs), oppervlak- en onderwatervoertuie," sê hy.
Volgens Du Toit, het die Universiteit Stellenbosch se wêreldklas onderrig hom die ideale wegspringplek vir sy strewe na ingenieurswese-navorsing gegee. "Daar is baie geleenthede vir nagraadse werk in die Verenigde State en verder, en hoewel dit nie 'n geskikte pad vir almal is nie, dink ek dat die studente in Suid-Afrika nie die geleenthede nastreef nie, want hulle weet eenvoudig nie daarvan nie of hulle glo nie dat dit moontlik is nie. My raad is: volg jou drome want jy sal nooit weet as jy nie probeer nie".
- Jy kan hierdie missie volg op https://aquarius.fiu.edu/medi…. Vir sosiale media nuus op Twitter volg gerus @aqua_dutoit ; @NASA_NEEMO en https://www.facebook.com/NASA… en https://www.facebook.com/Aqua… op Facebook.
- Fotos verskaf: Noel du Toit & NASA