
Matie-fietsryer as Afrika-kampioen gekroon
Matie-fietsryer Mariske Strauss (24) het beserings en ’n slegte val die vorige week te bowe gekom om die afgelope naweek as die Afrika-bergfietskampioen gekroon te word by die 2016 Afrika-kontinentale bergfietskampioenskap. Dit is haar vyfde Afrika-titel.
Die geleentheid is van 30 Maart tot 3 April in Lesotho aangebied. Fietsryers het nie net om kontinentale titels nie maar ook om waardevolle UCI-punte meegeding. UCI-punte bepaal nie net 'n fietsryer se beginposisie in 'n wedren nie, maar ook hoeveel fietsryers 'n land na die Olimpiese Spele kan stuur.
Strauss het 'n week vroeër tweede gekom in die Elite vroue-resies by die derde ronde van die Stihl 2016 SA XCO Cup-reeks wat in Pretoria gehou is nadat sy twee keer keer geval het. Hoewel sy kneusings opgedoen het, is sy gelukkig nie ernstig beseer nie.
Haar Novus OMX Pro-spanmaat Cherie Redecker, wat tweede gekom het by die Afrika-kampioenskap, het die wedren in Pretoria gewen. Ná die kompetisie in Pretoria het Strauss besluit om 'n ander benadering by die kontinentale kampioenskap te volg.
"Ek het besluit om my eie resies te ry, dit baie te geniet en te kyk hoe die veld en ek reageer op die hoogteverskil."
Die deelnemers moes vyf rondtes van 5,4 km voltooi op 'n hoogte van ongeveer 3000m bo seespieël.
"Die resies het stadig begin en toe het ek die krane met die eerste klim oopgedraai tot ek voor was. Ek het dinge konstant gehou en dit baie geniet," voeg sy by.
Strauss sukkel sedert 2014 met beserings – eers het sy haar maagspiere geskeur en toe haar enkelligamente. Dit het beteken sy kon nie verlede jaar haar 2014 SA Bergfiets- of 2014 Afrika-kampioenskaptitel verdedig nie.
"Die afgelope twee jaar was baie moeilik, maar ek het ongelooflike ondersteuning gehad," sê sy.
Sy fokus nou op die toekoms. Weens akademiese verpligtinge sal sy eers weer aan die einde van die maand aan 'n resies deelneem by die Pietermaritzburg Bergfietsfees. Sy hoop ook om Suid-Afrika later vanjaar by die Olimpiese Spele in Rio te verteenwoordig.
Strauss is 'n derdejaar– BSc Sportwetenskapstudent by die Universiteit Stellenbosch. Voor sy hier vir haar kursus ingeskryf het, het hierdie voormalige Hoërskool Stellenberg-leerder 'n jaar by Mars Hill College in die VSA spandeer .
As alles goed gaan, sal sy vanjaar die finale twee vakke van haar graad voltooi en in Desember gradueer. Dit is nie maklik om te studeer terwyl sy steeds mededingend deelneem aan die sport waarvoor sy lief is nie, maar sy glo dit is die moeite werd.
Fotokrediet: Andrew Mc Fadden/BOOGS Photography