
Matie-atlete presteer oorsee in aanloop tot Afrika-kampioenskap
Suid-Afrikaanse atlete het die afgelope paar weke ’n reeks indrukwekkende vertonings gelewer, en Maties se eie Justine Palframan en Jean-Maré Senekal het onderskeidelik ’n seisoensbeste en persoonlike beste tyd aangeteken, terwyl Victor Hogan nog 'n Olimpiese kwalifiserende afstand behaal het in die diskusitem.
Palframan, die Wêrelduniversiteitekampioen in die 400m, het saam met Wayde van Niekerk, wêreldkampioen in die 400m, en Akani Simbine, Wêrelduniversiteitekampioen in die 100m, op 4 Junie in Kingston, Jamaika, aangekom om 'n week lank by die Racers-atletiekklub, die tuisklub van die bekende naelloper Usain Bolt, te oefen.
Hulle het daarna almal op 11 Junie aan die Racers Grand Prix deelgeneem. Palframan het sewende gekom in die 400m vir vroue in 'n tyd van 53.01s, haar beste tyd hierdie seisoen.
Sy het haar tyd in Jamaika as 'n "fantastiese ervaring" en 'n "tree in die regte rigting" beskryf.
Palframan het al 'n kwalifiserende tyd vir die Olimpiese Spele aangeteken, maar moet bewys dat sy sal kan deelneem nadat sy vroeër die jaar met 'n besering gesukkel het. Hierdie besering het haar verhoed om haar nasionale titels in die 200m en 400m te verdedig by vanjaar se SA nasionale baan- en veldkampioenskap in April.
Sy sal nou deelneem in die 400m by die Adidas Boost Grand Prix-geleentheid in Boston, voor sy na Suid-Afrika terugkeer om in Durban aan die 200m by die 2016 CAA Afrika Senior Kampioenskapsbyeenkoms deel te neem, volgens haar afrigter Mohamed Ally.
In Europa het Jean-Maré Senekal 'n persoonlike beste tyd behaal in die 400m hekkies vir vroue toe sy haar uitdun by die Georges Caillat-gedenkkompetisie in Geneva in 'n tyd van 57.89s gewen het.
Op 2 Junie het die Matie-diskusgooier Victor Hogan tweede gekom by die IAAF Diamantligakompetisie in Rome met 'n afstand van 64.03m. 'n Week vroeër het hy weer eens 'n Olimpiese kwalifiserende afstand by 'n kompetisie in Duitsland behaal met 'n gooi van 65.03m.
In Suid-Afrika het Shaun de Jager Saterdag, 11 Junie, sy beste tyd dié seisoen in die 400m aangeteken by die BestMed Tuks-atletiekontmoeting in Pretoria toe hy sy uitdun in 'n tyd van 45.70s gewen het.
Al vier hierdie atlete is gekies om aan die Afrika-kampioenskap wat van 22-26 Junie in Durban aangebied word, deel te neem.
Ally, Sportbestuurder: Atletiek by die Universiteit Stellenbosch, het verduidelik dat atlete gekies is op grond van hul beste vertonings in 2016.
Die span sluit ook die volgende Matie-atlete in: Shaun de Jager (400m); Keagan Fourie (hoogspring); Jodie Sedras (paalspring); Stefan Brits (verspring); Samantha Pretorius (verspring); Jacobus Kruger (hammergooi) en Nienka du Toit (sewekamp).
Foto: Jean-Maré Senekal