Skip to main content
KULTUURDAG – ʼn FEESTELIKHEID

KULTUURDAG – ʼn FEESTELIKHEID

Deena Raghavjee (IEP Coordinator)
21 Julie 2016

Internasionale studente wat die Universiteit Stellenbosch Taalsentrum se intensiewe Engels- program, die Intensive English Programme (IEP), volg, het Kultuurdag vanjaar op 26 Mei op ʼn besonderde en opwindende manier gevier. 

Die Verenigde Nasies het 21 Mei van elke jaar as Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit vir Dialoog en Ontwikkeling verklaar, en op hierdie manier ʼn dag uitgesonder om ons die geleentheid te gee om tot ʼn dieper begrip te kom van die waarde van kulturele diversiteit en om te leer hoe om in harmonie saam te leef. Die IEP-studente het die geleentheid om hierdie dag by die Universiteit te vergestalt aangegryp, al was dit ʼn paar dae na die amptelike datum.

Die geleentheid het plaasgevind by die Khaya (Kruiskerk), op die hoek van Victoria- en Ryneveldstraat, waar groepe IEP-studente die algemene konsepte van hul oortuigings, waardes en kulture verken het. Verteenwoordigde lande was Libië, Egipte, China, Turkye, Saoedi-Arabië, Mosambiek, Reunion-eiland, Madagaskar, die Kongo, Suid-Korea, Kameroen en Benin.

Uitstallings in verskeie stalletjies het die kulture van die verskillende etniese groepe uitgebeeld, met die klem op groepe se gebruike, tradisies en kos. Verder het elke groep voorgestel hoe hulle met hul kultuur identifiseer.

Ons Kultuurdag was ʼn geleentheid waarin studente en mentor-dosente baie ure belê het en iets wat tot stand gekom het deur nougesette beplanning, inoefenings en kruiskulturele spanwerk. Daarom was die uitkoms werklik merkwaardig, met pryse wat volgens spesifieke kriteria aan die top drie groepe toegeken is. Die voorstellings was ʼn wonderlike geleentheid vir die studente om met die gehoor te deel hoe hulle kultuur verstaan – ook hoe hulle hulself verstaan – en sodoende het hulle ook hul taalvaardigheid in Engels verskerp.