Skip to main content
Konservatorium ken prys toe aan Samaai

Konservatorium ken prys toe aan Samaai

Wayne Muller
04 Oktober 2016

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Konservatorium het Saterdagaand (1 Oktober) die Paarlse musikus Ronnie Samaai met die gesogte Parnassus-toekenning vereer.

Dié toekenning word gemaak aan 'n musikus wat 'n besondere bydrae op die gebied van musiek in Suid-Afrika gemaak het. Dit is in 2005 ingestel en word slegs gemaak wanneer 'n geskikte kandidaat benoem word.

Die naam verwys na die Griekse berg Parnassus wat volgens mitologie gesien word as die tuiste van die muses van digkuns, musiek en opvoeding. Vorige wenners sluit onder andere in die dirigent Richard Cock, klavierpedagoog Joseph Stanford en tjellis Marian Lewin.

Samaai, wat vanjaar sy 80ste verjaardag gevier het, het die toekenning Saterdag tydens 'n konsert van die US Simfonie-orkes (USSO) in die Musiekdepartement se Endlersaal ontvang.

Prof Winfried Lüdemann, Voorsitter van die Musiekdepartement, het die prys aan Samaai oorhandig en gesê dit word aan hom toegeken vir sy uitsonderlike loopbaan in musiek. "Ronnie Samaai is nou deel van die muses op Berg Parnassus. Hy is soos 'n geëerde staatsman in musiek en 'n inspirerende voorbeeld vir Suid-Afrikaners."

In reaksie het Samaai gesê: "Ek kan net dankie sê. Ek doen maar net my werk, en ek doen dit na die beste van my vermoë. Ek wil hierdie prys aan my gesin opdra."

Vroeër vanjaar het Samaai die kykNET Fiësta-prys ontvang vir sy lewenslange bydrae tot musiek in Suid-Afrika. Die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het hom ook in 2011 die Kanna-toekenning vir sy bydrae tot die kunste gee.

Samaai het sy skoolopleiding in die Paarl voltooi, waarna hy 'n onderwyssertifikaat van die Athlone Institute ontvang het. Hy was 40 jaar lank in die onderwys betrokke, waarvan 20 jaar by die Bellville Onderwyskollege, waar hy hoof van die musiekdepartement asook vise-rektor was.

Hy is bekend as vioolonderwyser en het lisensiate daarvoor van die London Trinity College of Music en die Royal School of Music ontvang. Hy het ook 'n BMus-graad in musiekwetenskap van Unisa verwerf.

In 1997 het hy die Western Cape Music Education Project in Kuilsrivier begin waar jong kinders uit die gemeenskap musiekopleiding ontvang.

Samaai is vir die afgelope tien jaar 'n direksielid van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes.

Onderskrif: Ronnie Samaai (regs) saam met prof Lize van Robbroeck, Vise-dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.