Skip to main content
Konferensie bekyk rol van vroue en swart mense in sportgeskiedenis

Konferensie bekyk rol van vroue en swart mense in sportgeskiedenis

Sandra Mulder
19 September 2017

Die tragedie van Suid-Afrika was dat wit Suid-Afrikaners ietwat selfvoldaan was en as ʼn gevolg ander onsigbaar gemaak. Dit geld ook die geskiedenis van sport. In sportgeskiedenis was nie net swartmense nie, maar ook vroue onsigbaar, het prof Andre Odendaal, sporthistorikus en hoofspreker gesê tydens 'n tweedaagse konferensie met die tema “Dekolonisasie Sport Historiese Temas” georganiseer deur die Departement Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch ( US) en die US Museum.

Die konferensies, wat Saterdag geëindig het, is sovêr bekend die eerste in sy soort met afgevaardigdes van universiteite en die burgerlike samelewing wat op Stellenbosch byeengekom, het dr Francois Cleophas van die Departement Sportwetenskap gesê.

In sy lesing het Odendaal ʼn kort uiteensetting gegee van sy sportgeskiedenis-navorsing en skryfwerk wat oor 40 jaar strek. Hy het onder meer vertel hoe hy in die 1960’s in gesprek was met die destydse kaptein van die Suid-Afrikaanse rugbyspan wat hom vir hom gesê het dat swartmense nie krieket of rugby ken nie, aangesien hulle dit nie lank gespeel het nie.

In sy navorsing het Odendaal twee lewende bronne van sportgeskiedenis-data gevind wat ʼn ander storie van die betrokkenheid van swartmense in sport vertel.

“Die eerste keer dat Xhosa op ʼn krieketveld gepraat is, was in 1859 in Grahamstad in die Oos-Kaap,” het Odendaal gesê. Hy het bygevoeg dat die onsigbare rol van vroue in die geskiedenis ook sy aandag getrek het. Die uitsluiting van vroue kan toegeskryf word aan die Anglo-sentriese persepsies van geskiedskrywing in die verlede. Hulle het sekere mense soos vroue en swart mense op beperkte maniere aangebied of glad nie.

“Vroue maak 50% van die bevolking uit, maar hulle figureer nie in die sportgeskiedenis nie. Hulle was so onsigbaar soos swartmense,” het Odendaal gesê. Dit terwyl daar reeds melding gemaak word van vroue wat krieket speel met die beginjare van die vrouekrieketvereniging in Engeland in 1926, twee jaar nadat vroue stemreg in Engeland verkry het. In Suid-Afrika is die Skiereiland-damesklub in 1932 begin. In 1952 is die nasionale vrouekrieketspanne in Rhodesië en Suid-Afrika aangekondig.

Volgens Odendaal het ʼn wonderlike reis vir hom begin nadat hy kennis geneem het van Thozama April (van die Sentrum vir Geesteswetenskaplike Navorsing aan die Universiteit van Wes-Kaapland) wat geskiedskrywers gekritiseer het op grond van die uitsluiting van vroue in die geskiedenis. Hy het toe met ander oë na die geskiedenis gekyk en vroue se rol ingesluit. “Dit is nie ʼn gedwonge narratief of kunsmatige verdra van vroue nie, maar ʼn naatlose tapisserie,” het hy gesê.

Dr Heinrich Grobbelaar van die Departement Sportwetenskap het gesê die tema van konferensie bevat die woorde “dekolonisasie” en “sportgeskiedenis”, wat ook die huidige diskoers tussen die departemente en fakulteite in die universiteitsektor regoor Afrika omvat.

Grobbelaar het aangehaal uit ʼn artikel deur prof Lesley Le Grange, Visedekaan: Navorsing in die Fakulteit Opvoedkunde aan die US oor die dekolonisering van die kurrikulum van universiteite. “Die studente-protes van 2015 het ʼn hernieude belangstelling in die dekolonisasie van die universiteite in Suid-Afrika tot gevolg gehad, en daarmee saam ook die dekolonisasie van die universiteitskurrikulum. Die dekolonisasie van die kurrikulum is ʼn belangrike gesprek en lank reeds nodig aangesien die Westerse model van akademiese organisasie waarop die Suid-Afrikaanse universiteit geskoei is, grootliks onbetwis bly.” In Le Grange se artikel het hy tot die debat bygedra deur te bespreek hoekom daar die behoefte aan dekolonisasie is, die belangrikheid daarvan om die saamstel van die kurrikulum te heroorweeg, en om maniere hoe die universiteitskurrikulum gedekoloniseer kan word, te beskryf.

Die konferensie word gehou in ʼn periode in ons land se geskiedenis waar diskoers oor dekolonisering rigtinggewend is. Dit blyk egter dat hierdie diskoers nie altyd sportstudies insluit nie. Die konferensie spreek hierdie leemte aan en dit is gepas dat dit op Stellenbosch met sy omstrede verlede plaasvind,” het Cleophas gesê.

“Die konferensie kan dus beskou word as ʼn uitbreiding op sy (Odendaal) werk waar nuwe insigte, nuwe metodologie en nuwe substantiewe verhale opgesoek word.”

Odendaal kan tereg beskou word as die vader van swart krieket geskiedskrywing.  Sy The story of an African game (2006) bly ʼn bakermat vir alle Suid Afrikaanse krieketgeskiedenisskrywers. Die boek is hoog aangeskryf met ʼn voorwoord deur oud-president Nelson Mandela. Naas hierdie skrywe het hy tientalle publikasies oor krieket en swart Suid-Afrikaanse geskiedenis die lig laat sien. Odendaal het ʼn historiese verbintenis met die US. Hy het tot op meestersgraadvlak aan die US studeer en was ook redakteur van Die Stellenbosse Student en kaptein van die seëvierende universiteitskrieketspan. In plaas daarvan om die gevestigde roete te volg, het hy gekies om by die struggle aan te sluit en sy sportloopbaan onder die vaandel van SACOS voort te sit en hom sodoende ook vir massadeelname te beywer.