Skip to main content
Kommunikasie uit die Raad (2016/09/26)

Kommunikasie uit die Raad (2016/09/26)

Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
28 September 2016

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op 26 September 2016, by sy derde geskeduleerde vergadering van die jaar, die huidige stand van sake wat betref hoëronderwysfinansiering en studenteprotes bespreek, ʼn verslag oor die sogenaamde persgesig-voorval aanvaar, ʼn nuwe Bedryfshoof aangestel, asook ʼn nuwe Dissiplinêre Kode vir Studente en ʼn aantal ander belangrike beleide goedgekeur.

Stand van sake in die hoër onderwys

Die Raad het met besorgdheid kennis geneem van die landswye studenteprotes oor studentegelde. In ʼn voorlegging aan die Kommissie van Ondersoek na Hoëronderwys en Opleiding het die Universiteit hom uitgespreek ten gunste van geldelike bystand aan akademies verdienstelike studente wat finansieel swaarkry – op ʼn glyskaal wat aan huishoudelike inkomste gekoppel is. Die Raad het sy steun hieraan toegesê, sowel as aan die sektorwye aandrang op meer staatsfinansiering vir universiteite. Die Raad het ook sy steun uitgespreek vir prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, se beplande reis na Kanada en die VSA van 28 September tot 7 Oktober 2016, wat hoofsaaklik op fondswerwing vir die Universiteit gemik is.

Wat studenteprotes betref, het die Raad sy kommer uitgespreek oor die vorm wat dit aanneem, maar sy vertroue in die bestuur bevestig om die situasie deur voortgesette gesprekke en ander stappe te hanteer. Die Raad het die belang van die akademiese projek beklemtoon, en gesê die Universiteit moet oop bly sodat studente die akademiese jaar kan voltooi.

Verslag oor 'persgesig'-voorval

Die Raad het adv Renata Williams SC bedank vir haar omvattende verslag – met kritiek en aanbevelings – oor die Universiteit se hantering van gebeure by Heemstedekoshuis op 4 Februarie 2016, wat as die persgesig-voorval bekend is. Die Raad het kennis geneem dat die bestuur aandag gee aan die leemtes wat in die verslag uitgewys word, en ook gelet op die Persombud se opmerkings dat eensydige beriggewing in die media tot die ongelukkige gebeure bygedra het. 

Nuwe Bedryfshoof

Die Raad het besluit om prof Stan du Plessis as nuwe Uitvoerende Bedryfshoof van die US aan te stel. Du Plessis, wat sowel die Senaat as die Institusionele Forum se voorkeurkandidaat was, is tans die dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Hy sal oorneem by die huidige Bedryfshoof, prof Leopoldt van Huyssteen, wat aan die einde van 2017 aftree. Du Plessis sal sy nuwe pos met ingang van Januarie 2017 beklee, met voorsiening vir ʼn tydperk van oorvleueling sodat pligte en verantwoordelikhede behoorlik oorhandig kan word.

Dissiplinêre Kode vir Studente

Die Raad het ʼn nuwe Dissiplinêre Kode vir Studente goedgekeur. (Die Engelse weergawe dien as brondokument, en die Afrikaanse vertaling moet ten nouste daarmee ooreenstem.) Die Studenteraad, Institusionele Forum en Senaat het reeds vroeër hul steun daaraan toegesê. Die kode strook met die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, sowel as die US se waardes en beginsels wat in die instelling se Institusionele Voorneme en Strategie vervat is. Daar is veral klem gelê daarop om die administratiewe aard van die dissiplinêre proses te versterk en van kwasi-juridiese verrigtinge weg te beweeg. Die Afdeling Regsdienste, wat nou onder die Registrateur val, sal die kode bestuur. Dit tree op 1 Januarie 2017 in werking, en sal in die Jaarboek en op die US-webblad gepubliseer word.

Beleid oor Onbillike Diskriminasie en Teistering

Die Raad het ʼn nuwe Beleid oor Onbillike Diskriminasie en Teistering goedgekeur, wat sowel studente as personeellede geld. (Weereens dien die Engelse weergawe as brondokument en moet die Afrikaanse vertaling ten nouste daarmee ooreenstem.) Die beleid is in werking sedert die Rektor se Bestuurspan dit in November 2015 voorlopig goedgekeur het vir implementering en aanpassing soos nodig op voorwaarde dat die volle institusionele goedkeuringsroete steeds gevolg moes word.

Die nuwe beleid is ʼn oorkoepelende dokument wat die vorige beleid oor seksuele teistering en nuwe riglyne teen onbillike diskriminasie saamsnoer. Daar word beoog om ʼn nuwe kampuskultuur tot stand te bring. Sterk standpunt word ingeneem teen onaanvaarbare gedrag, maar terselfdertyd word gesprekvoering en geskilbeslegting aangemoedig. Die beleid funksioneer in noue samehang met verbandhoudende instrumente, waaronder die Dissiplinêre Kode vir Studente. Daar word ook gestreef na sinergie tussen implementeringstrukture soos die Eenheid vir Gelykwaardigheid, Menslike Hulpbronne en die Sentrale Dissiplinêre Komitee.

US-handelsmerkbeleid

Die Raad het ʼn handelsmerkbeleid vir die US goedgekeur wat daarop gemik is om die US-handelsnaam, synde een van die Universiteit se waardevolste bates, te beskerm. (Die Engelse weergawe dien as brondokument, en die Afrikaanse vertaling moet ten nouste daarmee ooreenstem.) Die beleid is opgestel om die integriteit van die US se onderskeie handelsmerke te bevorder, en te verseker dat hulle op gepaste wyse gebruik word. Die beleid val onder die Bedryfshoof en sal uitgevoer word deur Innovus, die afdeling gemoeid met die bestuur van die US se intellektuele eiendom, in samewerking met ander afdelings.

Diensbillikheidsbeleid

Die Raad het ʼn Beleid oor Diensbillikheid (billike indiensneming) goedgekeur met die vroeëre instemming van die Senaat en Institusionele Forum. (Die Engelse weergawe dien as brondokument, en die Afrikaanse vertaling moet ten nouste daarmee ooreenstem.) Die beleid stel die US in staat om aan die vereistes van die Diensbillikheidswet van 1998 te voldoen. Die dokument is opgestel ná deeglike oorlegpleging op kampus sowel as 'n eksterne oudit van diensbillikheidspraktyke aan die Universiteit, en is toegespits op die noodsaak om 'n diverse personeelkorps te bou wat oor transformasiebevoegdhede beskik. ʼn Diensbillikheidsplan wat uiteensit hoe die beleid uitgevoer moet word, sal so gou moontlik voor die Raad dien.

Hersiening van die US Toelatingsbeleid

ʼn Eerste konsepweergawe van ʼn gewysigde US Toelatingsbeleid en ʼn regsmening daaroor is aan die Raad voorgelê, en raadslede is versoek om skriftelike insette oor grondbeginsels te lewer. Die taakgroep wat daarmee gemoeid is, sal dit in ʼn tweede konsep inkorporeer, wat vir ʼn maand openbaar gemaak sal word vir studente, personeel, fakulteitsrade en eksterne belanghebbers se insette. ʼn Finale konsep sal aan die Senaat en Institusionele Forum voorgelê word, alvorens dit saam met hul aanbevelings weer Raad toe geneem sal word vir goedkeuring tydens die sitting van 28 November.

Statuut

Die nuwe Statuut van die Universiteit is op 2 September in die Staatskoerant gepubliseer en is dus nou geldig. Klik hier vir ʼn afskrif soos gepubliseer. Die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding het nog nie bykomende Raadslede aangewys nie.

Halfjaarlikse finansiële verslag

Die Raad het die US se halfjaarlikse finansiële verslag aan die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding goedkeur. Bedryfskapitaal stel die US in staat om as toonaangewende navorsingsgedrewe universiteit steeds tot die land en vasteland by te dra, ondanks die groot uitgawes verbonde aan navorsing, beurse, die instandhouding en opknapping van fasiliteite, sowel as inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT).

Van die belangrikste finansiële risiko's wat volgens die verslag in ag geneem moet word, is:

  • die impak van die #FeesMustFall-veldtog en studenteprotes oor studentegelde;
  • die impak van protes oor die uitkontraktering van sekere dienste;
  • die onbekende uitwerking van die verwagte verandering in die subsidieformule op die Universiteit se eerste geldstroom;
  • die impak van die trae wêreldekonomie op skenkings en navorsingskontrakte; en
  • studente se vermoë al dan nie om hulle studenterekeninge te betaal.

Die Universiteit bied hierdie uitdagings die hoof deur sy strategiese benadering tot finansiële beplanning en bestuur, en voer dit aan die hand van sy gekose sakemodel uit.

Studentegelde

Die Raad het moontlike aanpassings aan studentegelde bespreek – een vergadering vroeër as gewoonlik weens die besondere belang van die aangeleentheid. ʼn Besluit hieroor sal egter eers by die volgende raadsvergadering – op 28 November – geneem word, wanneer die US se begroting voor die Raad dien.

Die Raad het kennis geneem van die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding se aankondiging op 19 September 2016 dat bykomende finansiering voorsien sal word sodat studente uit huishoudings met ʼn jaarlike inkomste van tot R600 000 in 2017 dieselfde onderriggeld as in 2015 sal betaal. Die Raad het ook bevestig dat die US die sektorwye benadering van ʼn voorgestelde verhoging van 8% in inkomste vir 2017 ondersteun.

Vergoedingsaanpassings vir 2017

Die Raad het ʼn mededeling van sy Vergoedingskomitee ontvang oor vergoedingsaanpassings vir 2017. Die aanbeveling is soos volg:

  • ʼn Algemene inflasiegekoppelde aanpassing van 6% vir personeel wat ʼn prestasiepunt van 3 of meer behaal het in die vorige evalueringsiklus.
  • Geen aanpassing aan die basisvergoedingsvlakke (BVV) in 2017 nie.
  • ʼn Bykomende persentasie verhoging aan toppresteerders, soos volg:
  • 1% vir personeel wat ʼn prestasiepunt van 4–4.49 behaal het in die laaste drie prestasiesiklusse. (Hierdie verdere aanpassing mag nie die werknemer se koste van indiensname bo 10% van die BVV verhoog nie.)
  • 2% vir personeel wat ʼn prestasiepunt van 4.5 en meer behaal het in die laaste drie prestasiesiklusse. (Hierdie verdere aanpassing mag nie die werknemer se koste van indiensname bo 25% van die BVV verhoog nie.)

ʼn Besluit hieroor deur die Raad is onderworpe aan die finale goedkeuring van die US-begroting vir 2017, wat by die volgende raadsvergadering sal dien, sowel as die finale staatsubsidietoekenning.

Bestuursverslae aan die Raad

Dit is gebruiklik vir die Rektor om by elke raadsvergadering oor die hoogtepunte van die tydperk sedert die vorige vergadering verslag te doen. In sy verslag het hy gesê: "Die US is 'n nasionale bate. Dit lewer uiters gesogte gegradueerdes op, het die hoogste navorsingsuitset per kop in die land, het verlede jaar 'n rekordgetal PhD's toegeken, en spog met van die hoogste deursetsyfers in die land. Ons moet voortbou op hierdie sterkpunte en gebruik maak van alle geleenthede wat oor ons pad kom om die beste te wees wat ons kan." Klik hier vir uittreksels uit sy verslag.

Die viserektore en Bedryfshoof maak beurte om 'n omvattende verslag oor die aktiwiteite van die vorige jaar aan die Raad voor te lê. By hierdie vergadering het prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig, die geleentheid gekry om 'n oorsig van sy portefeulje te bied. Sy aanbieding het gefokus op uitnemendheid in leer en onderrig, studentesukses, koshuisplasings, ʼn voorgestelde nuwe toelatingsbeleid, die vorm en grootte van die US met inbegrip van studentediversiteit, programvernuwing, die implementering van meertaligheid, asook IKT in leer en onderrig. Klik hier vir sy skyfieaanbieding.

Studentesukses

Die Raad het met waardering kennis geneem van die goeie studentesuksessyfers wat by die US gehandhaaf word, soos wat die Viserektor: Leer en Onderrig se verslag toon. Dit is bevredigend om te sien dat die modulesukseskoers die afgelope ses jaar geleidelik toegeneem en in 2015 'n nuwe hoogtepunt van 86,7% bereik het. Die langtermyndoelwit is om 'n koers van 85% of hoër te handhaaf.

Instandhouding en opknapping van fasiliteite

Die Raad is meegedeel dat die US se Kampusvernuwingsprojek goed vorder. Dié projek bestaan uit grootskaalse, komplekse inisiatiewe op etlike verskillende terreine en met verskeie kliënte, insluitend die Ingenieurswese-kompleks, Studentegemeenskappe en Studentesake, PSO/koshuisnawe, sportfasiliteite, die Van der Sterr- en Rekeningkunde-en-Statistiekgebou, die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou, die Dramavernuwingsprojek, en opknapping van onderrigruimtes.

ʼn Komponent waaroor afsonderlik aan die Raad verslag gedoen is, is die Tygerberg-inhaalinstandhoudingsprojek. Wat die aard, omvang en tydraamwerk daarvan betref, is dit die grootste enkele projek wat die US tot nog toe aangepak het. Daar is sedert 2010 voortdurend uitgebreide konstruksiewerk op die Tygerbergkampus, maar die projek sal teen die einde van 2016 grootliks voltooi wees.

Senior aanstellings en personalia

Benewens die aanstelling van die nuwe Bedryfshoof (sien hierbo), het die Raad ook die heraanstelling vir ʼn tweede termyn van twee van die US se viserektore bespreek: prof Arnold Schoonwinkel (Leer en Onderrig) en prof Eugene Cloete (Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie). Die Rektor het die Raad meegedeel dat dié twee ampsdraers baie goed in hulle portefeuljes vaar en dat dit belangrik is om hierdie momentum te behou. Die Raad het die aanbeveling aanvaar dat die kort proses in plaas van die lang proses vir heraanstelling gevolg word. Proff Schoonwinkel en Cloete se heraanstelling sal vervolgens vir oorweging voor die Senaat en Institusionele Forum dien, waarna die Raad by sy vergadering op 28 November finaal daaroor sal besluit.

'n Verdere personeelaangeleentheid waarvan die Raad kennis geneem het, is die heraanstelling van prof Sam Tshehla vir ʼn tweede termyn as die dekaan van Krygskunde. Die Gesamentlike Aanstellingskomitee het dié heraanstelling aanbeveel en die Raad het dit so aanvaar.

Die Raad is ook deur sy Menslike Hulpbronnekomitee meegedeel dat dr Jerome Slamat met ingang van 1 Oktober 2016 permanent as uitvoerende bestuurder van die Rektoraat aangestel word. Hy vervul reeds sedert 1 Junie 2015 die pligte verbonde aan hierdie pos in 'n gesekondeerde hoedanigheid (hy was voorheen die senior direkteur van Gemeenskapsinteraksie).

Prof Hester Klopper het op 1 Augustus die nuwe amp van Viserektor: Strategiese Inisiatiewe en Internasionalisering opgeneem. Die Voorsitter van die Raad het haar verwelkom en gesê sy geniet nou waarnemerstatus by die Raad, want kragtens die Statuut mag daar nie meer as drie viserektore in die Raad dien nie, en sy is die mees onlangse aanstelling.

Prof Klopper het op 2 September 2016 'n eredoktorsgraad van die Oxford Brookes-universiteit ontvang. Prof De Villiers is tot die Adviesraad van die internasionale vaktydskrif Gastroenterology verkies.

Die US in die nuus

Die Universiteit geniet voortdurend positiewe nuusdekking oor toonaangewende navorsing en ander prestasies. Die Raad het voorts kennis geneem dat die US die afgelope drie maande ook veral oor taalsake en – soos die res van die sektor – oor hoëronderwysfinansiering en protes oor studentegelde in die nuus was. Klik hier vir nuushoogtepunte en ʼn lys meningsartikels en rubrieke.

Volgende vergadering

Die volgende raadsvergadering is vir 28 November 2016 geskeduleer.