Skip to main content
Kom deel in US se eerste Tuiskoms-naweek

Kom deel in US se eerste Tuiskoms-naweek

Development & Alumni Relations/Ontwikkeling & Alumni-betrekkinge
02 Maart 2016

Matieland is gereed vir sy eerste Tuiskoms-naweek vir alumni wat vanaf 4 tot 7 Maart op die Stellenbosch-kampus plaasvind en personeel word aangemoedig om te kom deel in die feestelikhede.

"Dit is immers ons almal se Matieland," sê die Universiteit Stellenbosch (US) se Alumni-betrekkinge bestuurder, Shaun Stuart. "Kom wys jou ondersteuning. Die Alumni-betrekkinge span het die afgelope paar maande baie hard gewerk om 'n program propvol geleenthede en aktiwiteite saam te stel en hoe meer mense kom om dit te geniet, hoe beter!"

Die Tuiskoms-naweek bied iets vir almal. Daar is 'n verskeidenheid van fakulteit- en koshuis-spesifieke netwerk, sosiale aktiwiteite en kulturele geleenthede. Een van die naweek se hoogtepunte is 'n diskoers-kafee gefasiliteer deur US-alumnus prof Pierre de Vos. En moenie die amptelike afskop-skemerkelkie met ons Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers op Vrydag, 4 Maart vanaf 17:00 tot 19:00 by die US Kunsmuseum se Plataan Kafee misloop nie.

Koshuis-spesifieke aktiwiteite sluit in die gewilde Dagbreek/Maties Straatmyl in Victoriastraat; Heemstede se 50ste reünie, 'n Koeksusterfees by Nemesia, Erica en Serruria; asook 'n Legacy-fees met Metanoia by De Vette Mossel.

Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge sê: "Onthou die Tuiskoms-naweek val ook saam met die immergewilde US Woordfees, en as 'n alumnus en/of personeellid sal jy 'n spesiale afslagtarief op 'n verskeidenheid van Woordfees-opvoerings kry wat eksklusief via www.matiesalumni.com ​bespreek word."

Afslag-produksies sluit in 'n alumni "golden circle" by die konsert van die legendariese Johnny Clegg op Vrydag 4 Maart en die Woordfees POPS-konsert op Sondag, 6 Maart waar jy skouers kan skuur met die room van ons land se musieksterre soos Laurika Rauch, Elvis Blue, Gloria Bosman, Brandon October, Andriëtte Norman, Peter Maartens en Joshua na die Reën. Klik hier vir die volledige program van Tuiskoms-geleenthede: http://www.matiesalumni.com/programme-of-events/​.

  • Kontak gerus vir Shaun Stuart of Marvin Koopman via [email protected], of skakel X2941 vir meer inligting, of indien jy enige vrae het.​