Skip to main content
Kom beleef eerste Tuiskoms-naweek in Matieland

Kom beleef eerste Tuiskoms-naweek in Matieland

Development & Alumni/Ontwikkeling & Alumni-betrekkinge
15 Februarie 2016

Die Universiteit Stellenbosch (US) is gereed om sy alumni met ope arms by sy eerste Tuiskoms- naweek te verwelkom. Die Tuiskoms-naweek vind van 4-7 Maart 2016 op die Stellenbosch-kampus plaas.

Met 'n volgepakte program in plek, beloof die Tuiskoms-naweek om ietsie vir almal te bied. Alumni kan uitsien na 'n verskeidenheid van fakulteit-spesifieke aktiwiteite; die gewilde Dagbreek/Maties Straatmyl in Victoriastraat; kampustoere; koshuis-spesifieke aktiwiteite wat insluit Heemstede se 50ste reünie, 'n Koeksusterfees by Nemesia, Erica en Serruria; asook 'n Legacy-fees met Metanoia by De Vette Mossel.

Natuurlik het die Alumni-betrekkinge kantoor nie van ons rugbyliefhebbers vergeet nie. Hulle sal die geleentheid kry om op Maandag, 7 Maart ons manne in maroen by die Coetzenburg-sportgronde aan te spoor waar Maties teen die Shimlas in die Varsitybeker te staan kom.

En wat sou 'n tuiskoms wees sonder ekstra spesiale behandeling? Die Tuiskoms-naweek val saam met die immergewilde US Woordfees, en alumni kry 'n spesiale afslag om van die meer as 120 Woordfees-produksies wat aangebied word by te woon. Afslag-produksies sluit in 'n kos en wyn safari deur die pragtige Devonvallei; Leon van Nierop wat staaltjies uit die dae van weleer deel en die wonderlike geskiedenis van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf bespreek soos vervat in sy nuwe boek, Daar doer in die fliek; en Die dag is bros; asook 'n toneelstuk met die bekroonde aktrise Sandra Prinsloo in die hoofrol. Om te bespreek en vir jou spesiale afslag, besoek gerus www.matiesalumni.com.

Die US se Rektor en Visekanselier, Prof Wim De Villiers, sê: "Maties, hier is jou kans om weer daardie bande met ou vriende te bou, om daardie wonderlike studentedae te herleef en om meer te leer oor die opwindende navorsing en innovasie-aktiwiteite van jou alma mater. Kom kyk hoe baie het verander en hoeveel steeds dieselfde is. Dit is altyd lekker om huis toe te kom na Matieland en ons kan nie wag om jou te sien nie."

Moenie die amptelike afskop-skemerkelkie op Vrydag, 4 Maart van 17:00-19:00 by die US Kunsmuseum se Plataan Kafee misloop nie. Ons sal musikale vermaak verskaf. Die Alumni-span sien daarna uit om jou in Matieland te verwelkom.