Skip to main content
Kennis van Koran lei na glorie

Kennis van Koran lei na glorie

FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie
03 Maart 2017

Muhammed Sheik, ʼn mediese student in sy vyfde jaar, is verlede jaar by die prestigeryke International Hifz Memorisation-kompetisie in Bahrein as die "Beste Koran-voordraer uit Afrika" aangewys. 

Sheik is genooi om aan dié internasionale kompetisie deel te neem nadat hy in 2015 die Suid-Afrikaanse nasionale Koran-kompetisie gewen het.

"Dit was die eerste keer dat ʼn Suid-Afrikaner bevoorreg was om aan hierdie kompetisie deel te neem en ek kon dit regkry om goed te vaar – alle eer aan God!" het Sheik oor sy prestasie gesê. Deelnemers van 64 lande wêreldwyd het om die louere meegeding.

Hierdie kompetisie toets deelnemers se kennis van die Koran. Ter voorbereiding moet hulle die hele Koran-teks bestudeer sodat hulle tydens die kompetisie dele daarvan uit die hoof kan voordra.

Ander aspekte wat getoets word, is hul kennis van korrekte Koraanse voordrag, die wyse waarop hulle voordra en hoe mooi hul aanbieding is.

The Voice of the Cape-radiostasie (91.3FM) het soos volg oor Sheik se prestasie berig: "Hierdie is weer eens ʼn reusemylpaal vir die Suid-Afrikaanse Moslem-gemeenskap oor die algemeen en spesifiek vir Qari Muhammed Sheik, en dit moet gevier word. Hy is die eerste Suid-Afrikaner wat danksy sy prestasies by ander internasionale Hifz-kompetisies uitgenooi is, boonop in die finaal teen oorwegend Arabies-huistaalsprekers meegeding het en as 2016 se beste Koran-voordraer uit Afrika aangewys is."

Kyk by hierdie skakel na ʼn opname van Sheik se wen-voordrag by die International Hifz Memorisation-kompetisie in Bahrein.