Skip to main content
Invloed van diagnostiese toetse vir TB ondersoek

Invloed van diagnostiese toetse vir TB ondersoek

Mandi Barnard
28 Julie 2016

Dr Eleanor Ochodo het ʼn genootskap in Openbare Gesondheid en Tropiese Geneeskunde van die Wellcome Trust ontvang om ʼn raamwerk te ontwikkel vir die ontwerp van kliniese proewe wat die uitwerking van diagnostiese toetse vir Tuberkulose (TB) op die gevolge vir pasiënte sal meet.

"TB is steeds ʼn belangrike gesondheidsprobleem –  sowat nege miljoen nuwe gevalle en 1.5 miljoen sterfgevalle is wêreldwyd in 2013 aangeteken," het Ochodo gesê. Sy is ʼn navorser aan die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Sy het verduidelik dat daar tot dusver baie aandag geskenk is aan die ontwikkeling van TB-toetse, hoe die toetse werk en hoe doeltreffend dit is. Minder aandag is egter gegee aan wat die beste manier is om te bepaal wat die uitwerking van die toetse is op besluite oor behandeling, bestuurspraktyke en die gesondheid van pasiënte.

Die uitslae van proewe oor diagnostiese toetse vir TB is dikwels ingewikkeld en dit lei tot wisselings in die ontwerp van die toetse. Sommige navorsers bevraagteken nou die ontwerp en gehalte van die toetse. Ochodo gaan spesifieke toetse en die ontwerp daarvan ondersoek om vas te stel wat hulle uitwerking is in terme van gevolge vir pasiënte, insluitend so min onnodige empiriese terapie as moontlik, siektesyfers en sterftesyfers.

Dit is baie waarskynlik dat nuwe mededingende TB-toetse vir infeksie, siektevoorkoms en middelweerstandigheid oor die volgende dekade op die mark gaan kom. "Met my projek wil ek graag leiding gee oor die beste manier om deur verewekansigde kliniese proewe die uitwerking van hierdie toetse te bepaal. Die oogmerk is om navorsers en beleidmakers te help, want hulle maak staak op die beste wetenskaplike bewyse om te besluit in watter toetse om te belê.

"Kennis oor en die gebruik van die gepaste metodes om die uitwerking van TB-toetse te bepaal sal lei tot die gebruik van die regte toetse, minder vermorsing van gesondheidshulpbronne en beter resultate vir pasiënte," het Ochodo gesê.