Skip to main content
Internasionale Woordeboekdag word op 16 Oktober gevier

Internasionale Woordeboekdag word op 16 Oktober gevier

Willem Botha
17 Oktober 2016

​Internasionale Woordeboekdag word op 16 Oktober gevier en die Universiteit Stellenbosch wil u graag daaraan herinner dat u daagliks gratis toegang het tot die beste elektroniese woordeboeke in die wêreld. U hoef nie meer verouderde woordeboeke te gebruik om die betekenis van ʼn woord, ʼn sinoniem of ʼn vertaling na te slaan nie.  Met die klik van ʼn knoppie kan u toegang verkry tot die toonaangewende elektroniese woordeboeke van die JS Gericke-biblioteek, soos die Oxford English Dictionary, Pharos se aanlynwoordeboeke, en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Klik op http://library.sun.ac.za/English/search/Pages/lang-dict.aspx, selekteer die woordeboek van u keuse en voeg dit by as een van u "favourites" vir maklike toekomstige gebruik. Die WAT se kompetisie Borg ʼn Woord begin ook weer op 14 Oktober en twee pryse van R25 000 elk geborg deur Sanlam kan gewen word.  Woorde kan teen R100 per woord geborg word en elke deelnemer ontvang ʼn sertifikaat met sy naam en die woord of woorde wat hy of sy borg. Jy kan ook 'n woord  vir R5 000 koop en niemand anders mag dan daardie woord borg of koop nie. Elkeen wat 'n woord borg, kry vir ses maande gratis toegang tot die aanlyn WAT en indien jy 'n woord koop vir R5 000 kry jy vyf jaar gratis toegang.  Gaan na www.wat.co.za en klik op Borg 'n Woord as jy wil deelneem. 16 Oktober is die verjaarsdag van Noah Webster en Woordeboekdag word internasionaal ter ere van hierdie beroemde Amerikaanse woordeboekmaker gevier. Webster is in 1758 gebore en was ʼn briljante student wat op 15-jarige ouderdom aan die Yale Universiteit begin studeer het. Later word hy die samesteller van die eerste Amerikaanse woordeboek en hy word dus beskou as die vader van die Amerikaanse leksikografie.