Skip to main content
Internasionale Moedertaaldag: Inheemse tale moet bevorder word

Internasionale Moedertaaldag: Inheemse tale moet bevorder word

Simthembile Xeketwana
23 Februarie 2022

Internasionale Moedertaaldag is op Maandag 21 Februarie gevier. In ʼn meningsartikel vir Cape Times, skryf dr Simthembile Xeketwana (Departement Kurrikulumstudie) dat ons meer moet doen om ons inheemse tale te bevorder sodat hulle in verskillende sfere van die samelewing gebruik kan word.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

Simthembile Xeketwana*

Sedert die aanvang van ons demokrasie skep navorsers en akademici onverpoos en sonder verskoning bewustheid oor die verwaarlosing van Afrika-tale. Hulle het saam met ander sleutelrolspelers ons laat besef dat Afrika-tale wetenskaptale kan wees, en dus geïntellektualiseer moet word – net soos Russel Kaschula en Dion Nkomo in hul hoofstuk in The Cambridge Handbook of African Linguistics (2019) redeneer. Afrika-tale verdien om net soos enige ander koloniale taal in die akademie gebruik te word.

Op 'n dag soos Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) moet ons onsself as akademici afvra wat doen ons om te verseker dat ons ons inheemse tale bevorder? En veral wat doen ons om hierdie tale as akademiese tale in alle onderwysomgewings en verder te bevorder?  

Dit is die sleutelvrae wat ons in gedagte moet hou wanneer ons probeer om UNESCO se verklaring van Afrika-tale as die tale van die dekade 2022–2032 te bestuur en te bespoedig. Met hierdie verklaring moet daar gewys word dat inheemse tale integraal is in die ontwikkeling van Suid-Afrika, Afrika en die wêreld. UNESCO moedig die mobilisering van die verskillende belanghebbendes en hulpbronne aan om inheemse tale vir 'n dekade te bewaar, te laat herleef en te bevorder, en as ek mag byvoeg, selfs vir 'n langer tydperk. Dit is nou die tyd om verder te skryf, te onderrig en te teoretiseer oor inheemse tale en om hulle in verskillende omgewings in die samelewing te gebruik. Ons moet verseker dat ons tale in hierdie dekade (en daarna) floreer en van die rand af na die middelpunt van die akademiese projekte verskuif word.

Ons kan uit die 2022-tema vir Internasionale Moedertaaldag (die gebruik van tegnologie vir meertalige leer: uitdagings en geleenthede), asook die 2021-tema (koester meertaligheid vir insluiting in die onderwys en die samelewing), aflei dat hierdie temas ons in staat stel om wyd te dink en taalbeleide in te stel wat waarde en betekenis tot die ontwikkeling van ons samelewing sal toevoeg.

Ten slote …

Wanneer ons Internasionale Moedertaaldag vier, moet ons ook krities dink oor hoe ons die geleenthede wat aan ons gebied word, gaan gebruik. Die moontlikhede is inderdaad onbeperk en daar is geen beter tyd as nou om in Afrikatale te begin produseer en hulle te laat floreer nie. Hierdie tale is vir te lank weggesteek – by tye met oppervlakkige verskonings soos dat Afrika-tale nog nie genoeg ontwikkel is om as wetenskap aangewend te word of om deel uit te maak van die akademie nie. Dit was maar net nog 'n manier om te verhoed dat hierdie tale floreer soos hulle eintlik moet. Dit moenie 'n verrassing wees dat die Bybel lank voor wetenskap- en geografiehandboeke na Afrika-tale vertaal is nie. Om vorentoe te beweeg hiermee moet ons in ons inheemse tale belê. Ons moet hul rykheid en diversiteit gebruik om hierdie en ander toepaslike handboeke te skep en te skryf. 

  • Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.

*Dr Simthembile Xeketwana is 'n dosent in die Departement Kurrikulumstudie by die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.