Skip to main content
Insette oor vervoerlandskap op kampus word beloon

Insette oor vervoerlandskap op kampus word beloon

Vervoertaakspan / Transport Task Team
08 November 2016

Universiteit Stellenbosch het in 2010 sy eerste mobiliteitsplan goedgekeur. Die plan het gefokus op die aanmoediging van ander vorme van vervoer as privaatvervoer, onder meer stap, fietsry, saamryklubs en kampuspendeldienste. Nou is die US besig met die hersiening en opdatering van die plan, binne die konteks van die veranderinge wat die afgelope paar jaar plaasgevind het in die vervoerlandskap. 

'n Kernkomponent van hierdie opdatering is om menslike gedrag in aanmerking te neem by die planne wat gemaak word. Daarom is daar in September 2015 'n kombinasie van 'n aanlynvraelys, ritdagboek en slimfoontoepassing, bekend as Tracklog, ingespan om te bepaal wat personeel en studente se vervoergedrag is. Hoe skakel vervoer byvoorbeeld by hulle daaglikse aktiwiteite in? En wat bepaal die vervoerkeuse wat elkeen uitoefen?  

Die kombinasie van data-insamelingsinstrumente het elemente van persoonlike reis gemeet. Dit sluit onder meer persoonlike reiskoste, reistyd en omgewingskoste (veral koolstofvrystellings) in. Studente en personeel is ook gevra om hul ervarings oor vervoerknelpunte op en om die US se kampusse te deel en, meer spesifiek, hoe dit hulle veiligheid raak.

Vir deelname aan die vraelys was 'n gelukkige trekking van drie geskenkbewyse ter waarde van R3 000 elk by ʼn bekende winkelsentrum op die spel. En indien die ritdagboek voltooi en die "toep" geaktiveer is, het deelnemers vir 'n verdere twee geskenkbewyse van R2 500 elk in aanmerking gekom.

Die wenners van die geskenkbewyse was onderskeidelik van links na regs prof. GA Schoombee (Stellenbosch, Departement Ekonomie); dr. I Rootman-Le Grange (Stellenbosch, Departement Natuurwetenskappe); me.CN Snyman (Stellenbosch, Internasionale Kantoor); mev. K Nel Van Zyl (Tygerberg, Mediese Mikrobiologie). Afwesig: mnr. M Locklyer (Tygerberg, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe). Geluk aan die wenners!

Die Vervoertaakspan bedank graag elkeen van die deelnemers vir hulle tyd en moeite. Groot dank ook aan die Departement Logistiek en hulle ondersteuningspan wat die onderskeie data-insamelingsinstrumente met soveel kundigheid opgestel en die proses bestuur het! Dit was voorwaar spanwerk van die beste gehalte.