Skip to main content
Huis Marais – Besluit vir 2021 hersien

Huis Marais – Besluit vir 2021 hersien

Prof Arnold Schoonwinkel Vice-Rector: Learning and Teaching
11 November 2020

​Ná onlangse samesprekings tussen die Universiteit Stellenbosch (US) se Bestuur, studenteleiers en ondersteunende alumni van Huis Marais, is 'n ooreenkoms bereik dat die koshuis in 2021 die tuiste van slegs manstudente sal bly. Die partye het samesprekings gevoer met die doel om 'n beter verstandhouding tussen die onderskeie partye te bevorder en om tot 'n vergelyk te kom.

Hierdie besluit herroep 'n vroeëre aankondiging dat Huis Marais aanstaande jaar geen nuweling-studente sou ontvang nie en dat 'n nuwe ko-ed-studentegemeenskap in 'n deel van die gebou gevestig sou word. Die nuwe ooreenkoms bepaal dat HM 'n manskoshuis sal bly; dat dit sowat 90 eerstejaar- en 60 nuwe senior studente in 2021 sal ontvang; en dat 'n proses in werking gestel sal word om 'n verenigde en geïntegreerde gemeenskap te skep. Die HM-gemeenskap het hul verbind tot 'n etos wat met die US se waardes versoenbaar is en het ooreengekom om met die hulp van die US konkrete maatreëls in te stel om as 'n gemeenskap te groei. Om hierdie doelwit te bereik, maak die ooreenkoms voorsiening vir onder meer 'n huiskomitee (HK) van 14 lede saamgestel uit die bestaande verkose HK-lede van Huis Marais en bykomende lede wat uit die geledere van die huidige HM-gemeenskap en senior nuwelinge aangestel sal word. Voorsiening word ook gemaak vir die opstel van 'n nuwe of aangepaste grondwet en 'n gedragskode in 'n gesamentlike poging tussen HM, die US se Sentrum vir Studentegemeenskappe en 'n komitee van HM-alumni. Die Sentrum vir Studentegemeenskappe sal sekere duidelike riglyne verskaf en sal met die aanstelling van 'n fasiliteerder help om ondersteuning te verskaf. Die US en HM sal saamwerk om, gegrond op ons institusionele waardes, 'n florerende toekoms vir die koshuis te verseker.