
Houtprodukwetenskap personeel sluit aan by meubelontwikkeling-konsultasiespan in Tanzanië
Dr Philip Crafford en Mnr Jesse Favis, van die Departement Bosbou- en Houtkunde, het na Tanzanië gereis as deel van 'n nuwe meubelontwikkeling-konsultasiespan.
Die Tanzaniese Deelnemende Plantasiebosbouprogram (DPBP2) word grootliks deur die regering van Finland befonds en ondersteun plantasiebosbou- en houtnywerhede in die Suidelike Hooglande van Tanzanië. DPBP2 het Philip en Jesse, as houtprodukkenners van die Universiteit Stellenbosch, geraadpleeg om te help met meubelvervaardiging van plaaslike dennehout en Eucalyptus. Die DPBP2 werk aan 'n nuwe ontwerpermeubel-waardeketting met internasionale ontwerpers en werk saam met Suid-Afrikaanse houtprodukkundiges, wat die nuwe tegnologie sal prototipeer, ontwikkel en aan plaaslike klein en medium ondernemings (KMO's) sal oordra. Aangesien natuurlike bosbedekking steeds afneem en landelike armoede heers, bied plantasiebosbou en plaaslike nywerheidsontwikkeling rondom houtgebaseerde produkte, 'n geleentheid vir volhoubare ontwikkeling in die ware sin van die woord. Die Bosbou- en Houtbedrywe-opleidingsentrum by Mafinga, wat 'n skrynwerkafdeling het, sal die basis bied vir die span van houtkundiges om meubelontwerp en opleiding oor die volgende twee jaar te doen.