Skip to main content
#helloMaties - Beste in die klas

#helloMaties - Beste in die klas

Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
23 Januarie 2018

Die US is een van Suid-Afrika se beste tersiêre instellings gemeet aan navorsingsuitsette, studente-slaagsyfers en geëvalueerde wetenskaplikes, en geniet internasionaal erkenning as 'n uitnemende akademiese instelling. 

Die instelling spog met die hoogste geweegde navorsingsuitset per voltydse akademiese personeellid in die land en die tweedegrootste aantal wetenskaplikes in Suid-Afrika wat deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS - National Research Foundation) geëvalueer is. 

Die US is besig om sy reputasie as 'n wêreldklas-instelling te bevestig. Volgens die Times Higher Education World University Rankings is die US een van die beste 300 universiteite in die wêreld en een van die top20 universiteite in BRICS-lande. Die US tel nou onder die wêreld se elite instellings in 10 van die 36 vakke soos wat dit in die QS World University Rankings by Subject vir 2015 verskyn. Die US is ook in die 2014 CWTS Leiden-ranglys ingesluit, wat die wetenskaplike werkverrigting van 750 groot universiteit wêreldwyd meet.

Met 18 navorsingsleerstoele van die NNS se South African Research Chairs Initiative (SARChi)  word die universiteit as 'n leier beskou in onder meer biomediese tuberkulose, wynbiotegnologie, veekundige wetenskappe en wiskundige biowetenskappe. Nog 'n SARChi-leerstoel is gesamentlik aan die US en die Universiteit van Venda toegeken op die terrein van indringerbiologie. Dit is een van die US se talle Suid-Afrikaanse en internasionale vennootskappe, en as voorkeur-navorsingsgenoot is die US deel van talle internasionale akademiese netwerke.