Skip to main content
“Groot Bedanking”-tendens nie so gewild in SA want werk is skaars

“Groot Bedanking”-tendens nie so gewild in SA want werk is skaars

Dieter von Fintel
03 Mei 2022

Sondag 1 Mei was Werkersdag. In ʼn meningsartikel vir Mail & Guardian skryf prof Dieter von Fintel (Departement Ekonomie) dat die “Groot Bedanking"-tendens ná die grendeltyd nie so gewild was in Suid-Afrika nie omdat werkers eenvoudig nie die luukse het om hul werke vrywillig te bedank en hul bron van inkomste in gevaar te stel nie.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

​Dieter von Fintel*

Die pandemie het baie nuwe modewoorde en frases tot ons daaglikse taal gevoeg – woorde soos “sanitering", “sosiale afstandskepping", “kwarantyn", “zooming" en die “afplatting van die kromme". Maar nog 'n sinsnede ding tans om 'n plek in ons kollektiewe gewete mee en het reeds die aandag van die internasionale media aangegryp. Die “Groot Bedanking" (“Great Resignation") het ook by Suid-Afrikaanse gesprekke ingesluip. Maar gaan dit een wees om hier te onthou? En is hierdie nuwe neiging regtig besig 'n inslag in ons eie wêreld van werk te vind? Dit is van die sleutelvrae waaroor ons moet nadink wanneer ons Werkersdag op 1 Mei vier.

Arbeidsontleders, werkgewers en die media het baie aandag aan die hoë werkeromsetstatistieke in die VSA gegee, waar die terugkeer na die werkplek ná die grendeltyd met 'n massa vrywillige bedankings begroet is. Volgens die “Groot Bedanking"-narratief het werknemers die ontwrigtende uitwerking van die pandemie op die wêreld van werk as 'n geleentheid gebruik om hul loopbaanpaaie te heroorweeg en om uit werke te bedank waarmee hulle ontevrede was. Ons kan dit in 'n sekere sin “luukse werkloosheid" noem waar werkers in ontwikkelde ekonomieë kies om “ongerieflike werke" op grootskaal te verlaat omdat hulle al hoe meer ander opsies het. Maar hierdie neiging is vir werkgewers minder luuks. Hulle bly sit met die hoë koste om hierdie werkers te vervang en om nuwe toetreders vir die vakante poste op te lei.

Wat is hierdie “groot" neiging waaroor Suid-Afrika bekommerd moet wees? Sonder om agterweë te bly, het onlangse verslae van klein, sektorspesifieke databronne te voorskyn gekom wat waarsku dat Suid-Afrikaanse werkers ook moontlik die pad van die “Groot Bedanking" mag stap. Geskoolde werkers oorweeg ook blykbaar dieselfde versoekings as Amerikaanse werkers om hul “slegte werk" te los en op te hou werk ten gunste van beter geleenthede. Blykbaar is die lang, vreedsame ure in tuiskantore, weg van toksiese kantoorkulture met gelukkige gesinne in die agtergrond, afgewissel met Zoom- en Teams-vergaderings, genoeg om werknemers te oortuig dat hul ou werke in bedompige kantore nie meer die moeite werd is nie. En daar is talryke ander opsies. Of is daar?

Ten slotte …

Die neiging van Suid-Afrikaanse werkers om die arbeidsmark ná grendeltyd te verlaat, is nie aldeur (“groot"), óf vrywillig (“bedanking") nie. Gemiddelde werkers het hulle eerder weer by die groeiende tou werksoekers gevoeg. Hulle het eenvoudig nie die luukse om hul werke vrywillig te bedank en hul bron van inkomste in gevaar te stel nie. Hoewel sommige hoogsgeskoolde werkers 'n “kleinere bedanking" mag begin, taan hierdie neiging in vergelyking met Suid-Afrika se dringender “Groot Toetrede" sonder die werke om hulle te akkommodeer.

  • Klik hier om die volledige artikel soos geplaas te lees.

*Dieter von Fintel is 'n medeprofessor in Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch waar hy navorsing doen oor armoede, ongelykheid en arbeidsmarkte binne die navorsingsgroep wat fokus op sosio-ekonomiese beleid (ReSEP) en die Laboratorium vir die Ekonomie van Afrika se Verlede (LEAP).