Skip to main content
Griepinspuiting beskerm studente en pasiënte

Griepinspuiting beskerm studente en pasiënte

Wilma Stassen
06 Mei 2016

​'n Groep van 100 vierdejaar-studente het die griepinspuiting ontvang – nie net om hulself teen die griep te beskerm nie, maar ook om te verseker dat hulle nie dié kiem aan pasiënte oordra wanneer hulle opleiding ontvang nie.

Die groep MB,ChB-studente het 'n griepinspuiting-veldtog van stapel gestuur na aanleiding van 'n lesing getiteld "Inenting van die Gesondheidsorgwerker".

"Verskeie studente het my genader en was baie entoesiasties om 'n inentingsveldtog te begin," verduidelik dr Angela Dramwoski aan die Departement Pediatrie en Kindergesondheid by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Universiteit Stellenbosch.

Bo-en-behalwe dat hulle hulself en hul pasiënte teen die griep beskerm, het die inentingsveldtog studente ook 'n geleentheid vir praktiese kliniese ervaring gebied. Onder toesig van personeel by die kliniesevaardigheidsentrum het die studente die inentings aan mekaar toegedien.

"Die oorspronklike idee was om bewustheid te skep en 'n geleentheid te bied om die werkbaarheid van inenting van gesondheidsorgstudente te demonstreer. Hopelik sal dit in die toekoms op 'n grooter skaal beskikbaar gestel kan word," sê Dramowski.