Skip to main content
Goeie nuus op Wêreld Tabakvrye-dag 2019

Goeie nuus op Wêreld Tabakvrye-dag 2019

Carine Visagie
31 Mei 2019

Suid-Afrika se eerste Rook- en Tabakvrye kampus sal sy sukses vier op  Wêreld Tabakvrye-dag, wat plaasvind op 31 Mei.

Op 1 Januarie 2019, het die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) Suid-Afrika se eerste algehele Rook- en Tabakvrye kampus geword, en sedertdien het 'n aantal student en personeellede stappe gedoen om op te hou om tabak te gebruik.

Danksy die nuwe regulasies met betrekking tot die gebruik van tabak, sowel as die veldtog wat verband hou met die stappe om op te hou rook, asook die dienste beskikbaar in hierdie verband op die Tygerbergkampus, het heelwat studente en personeellede aangeklop by die Kampusgesondheidsdienste vir hulp oor hoe om op te hou om sigarette te rook en ander vorms van tabakgebruik te staak.

Voor die aanvang van die veldtog in Oktober 2018, het die FGGW 'n verantwoordelikheid geëien teenoor beide sy personeellede en studente om 'n gesonde en veilige omgewing te verskaf. Aan die begin van die jaar, het die Tygerbergkampus amptelik 'n rook- en tabakvrye sone geword. Tans word almal wat die kampus betree ten strengste verbied om enige vorm van tabak te gebruik op die perseel.

Die Tygerbergkampus is ten volle rook- en tabakvry verklaar, wat beteken dat die gebruik van nuwer tabakprodukte (soos byvoorbeeld e-sigarette) ook nie toegelaat word nie. Daar is geen toegewese rook-areas op die kampus nie – dit is tog waar baie van die toekomstige gesondheidsleiers van Suid-Afrika hulle opleiding ontvang.

26 mense meld aan vir hulp op kampus

Terwyl amptelike statistieke steeds bereken word in verband met die aantal suksesvolle intervensies, het Kampusgesondheidsdienste bemerk dat die nuwe regulasies 'n aantal studente en personeellede aangemoedig het om hulp te soek.

Volgens dr Craig Thompson, Direkteur van die Mediese Dienste by die Kampusgesondheidsdiens, is 26 mense behandel by die Tygerbergkampus se Gesondheidsdienste sedert die begin van die veldtog – van hierdie mense is 38.5% behandel voor die einde van 2018, toe die veldtog aanvanklik van stapel gestuur is.

“Onder die studente was daar ses mans en twee vrouens. Onder die personeel was daar een man en 15 vrouens," het Thompson aangedui. “Die mees gewilde hulpmiddels om te help om op te hou rook, was Champix, Zyban, en Nicorettes."

Florence de Vries is een van die personeellede wat gebruik gemaak het van hierdie gratis diens: “Ek het vir baie jare van my lewe my sigarette geniet, maar ek het weens verskeie redes vroeër in die jaar besluit om op te hou met rook. Die Rook- en Tabakvrye kampusveldtog het definitief daartoe bygedra om bewustheid te verhoog, en ek het die Kampusgesondheidsdienste redelik behulpsaam gevind."

De Vries, wat in die FGGW se Bemarkings- en Kommunikasie-afdeling werk, beklemtoon dat die geestelike en fisiese verantwoordelikheid om op te hou met rook steeds lê by die individu. Terwyl Kampusgesondheidsdienste beslis hulp kan verleen om die proses daarvan om op te hou rook te vergemaklik, verg dit toewyding van die individu om 'n langtermyn-leefstylverandering te maak wat tot hulle eie gesondheidsvoordeel sal wees.

Wêreld Tabakvrye-dag 2019

Hierdie jaar is die fokus van Wêreld Tabakvrye-dag op die negatiewe impak wat rook op mense se longe het. Dit is algemeen bekend dat tabakgebruik kan lei tot longsiektes – van longkanker tot chroniese lugweg-siektes.

“Die veldtog is ook 'n aansporing tot aksie, en is ook gemik op die beywering vir effektiewe beleide om tabakgebruik te verminder en om belanghebbendes uit verskeie sektore te betrek in die geveg vir tabak-beheer," luidens die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO).

Die FGGW erken dat blootstelling aan tabak 'n bedreiging inhou vir die gesondheid van alle mense se longe – nie net rokers s'n nie -  en dat tweedehandse rook ook 'n beduidende gesondheidgevaar inhou. Verder erken die FGGW ook dat rook verslawend is, en dat rokers dit moeilik kan vind om op te hou rook, wat die rede is waarom hulp deur die Kampusgesondheidsdiens aangebied word.

Het jy hulp nodig om op te hou rook?

Besoek die Tygerberg-kampus se Gesondheidsdienste vir 'n assessering, berading en toegang tot hulpmiddels, insluitende medikasie en/of nikotien-vervangingsterapie. Die Kampus se Gesondheidsdienste is op die tweede vloer van die Tygerberg Studentesentrum. Alternatiewelik kan jy +27 21 938 9590 skakel om 'n afspraak te maak. Vir algemene navrae, stuur 'n e-pos aan [email protected]