Skip to main content
GlaxoSmithKline hernu navorsings-vennootskap met US

GlaxoSmithKline hernu navorsings-vennootskap met US

Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
08 November 2016

GlaxoSmithkline (GSK), 'n wetenskapsgeleide globale gesondheidsorgmaatskappy, het op Maandag (7 November 2016) sy navorsingsvennootskap met die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Bedryfsingenieurswese hernu. Die geleentheid het by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) plaasgevind.

Die hernuwing van die navorsingstoekenning sal voorsiening maak vir 'n tweede kohort meestersgraadstudente vir die tydperk 2017/18, asook die uitkoop van die drie akademici se tyd tot 2018.

Die ondersteuning wat GSK deur middel van saadgeld verskaf, het in 2016 afgeskop. Dit het behels die volle befondsing van sewe meestersgraadstudente vir 'n twee-jaarperiode, soos hul lewensonkoste, studiegeld, reistoelae sowel as projek- en veldwerkkoste. Voorts het dit ook die uitkoop van akademiese tyd en konferensie ondersteuning van drie lektore (Louzanne Bam, Imke de Kock en dr Sara Grobbelaar) ingesluit.

Die studente en akademici wat baat by GSK-befondsing doen navorsing in die Eenheid vir Gesondheidstelselingenieurswese en Innovasie wat in die Departement Bedryfsingenieurswese gesetel is.  Fondse vir die oprigting van die eenheid is deur GSK bewillig.

Die eenheid wil professionele, transdissiplinêre verhoudinge en skakels met ander navorsings- en beleidsnetwerke te ontwikkel en sal op Openbare Gesondheidstelsels in sub-Sahara-Afrika fokus. Die uiteindelike doel is om kundiges op die gebied van Gesondheidstelselingenieurswese en Innovasie vir die kontinent op te lei.

Prof Hansie Knoetze, dekaan van die US se Fakulteit Ingenieurswese, het by die hernuwingsgeleentheid gesê dat, in die lig van die regering se onderbefondsing van universiteite, hierdie vennootskappe met industrie en ander befondsingsorganisasie belangrik is.

"Hierdie tipe vennootskappe is vir ons belangrik ten einde ons visie om internasionaal mededingend en plaaslike relevant te wees te verwesenlik."

Knoetze het gesê die vennootskap help die US en die Fakulteit Ingenieurswese in die bereiking van die doelwitte van die beste universiteit in Afrika wat die kontinent se probleme oplos met ʼn internasionale voetspoor en wêreldwye erkenning vir uitnemendheid.

"Hierdie vennootskap sal ons help om op die hoë vlak van uitnemendheid en die ontwikkeling van mensekapitaal voort te bou."

Dr Murray Stewart, hoof mediese beampte van GSK, het gesê die maatskappy is verbind tot die vennootskap.

"Ons is verbind tot befondsing en die ondersteuning van mense. Ons is verbind in terme van ware vennootskappe wat behels die uitruil van idees en bespreking van uiteindelike doelwitte."

Stewart het bygevoeg dat sy maatskappy uitsien na die voorsetting van ʼn suksesvolle vennootskap.

Die uitbreiding van die oorspronklike saadgeld sal GSK en US se langtermynvisie vir die skep van 'n Gesondheidselselingenieurswese en Innovasie Sentrum van Uitnemendheid goed ondersteun.

  • Klik hier vir die mediaverklaring wat deur die Fakulteit Ingenieurswese uitgereik is.

Foto: Prof Hansie Knoetze (agter links) and dr Murray Stewart (voor: derde van regs) saam met  ander verteenwoordigers van GSK en die US se Fakulteit Ingenieurswese by STIAS. 

Fotograaf: Hennie Rudman