Skip to main content
Gifinligting in 11 tale beskikbaar gestel

Gifinligting in 11 tale beskikbaar gestel

FMHS Marketing & Communications
02 September 2016

Was jy al ooit in ʼn situasie waar iemand aan gifstowwe blootgestel is en jy geen idee gehad het wat om te doen nie?

Handige inligtingskaarte met riglyne oor die onmiddellike behandeling in geval van vergiftiging is nou in al 11 amptelike tale van Suid-Afrika beskikbaar. Die Tygerberg-gifinligtingsentrum (TGIS) van die Universiteit Stellenbosch (SU) het dié kaarte ontwikkel en bied dit gratis aan die publiek as aflaaibare lêers op sy webwerf.

Die groot aantal mense in Suid Afrika wat sterf nadat hulle per ongeluk vergiftig is, is ʼn belangrike openbare gesondheidsprobleem, veral in landelike gebiede waar onmiddellike toegang tot gesondheidsorgfasiliteite nie altyd moontlik is nie. Na raming is daar ongeveer ʼn halfmiljoen mense in Suid-Afrika wat jaarliks aan toevallige of doelbewuste vergiftiging blootgestel word.

"Maar baie vergiftigings kan verhinder word en lewens gered word as mense oor die basiese inligting beskik oor vroeë behandeling voor opname in die hospitaal," sê me Carine Marks, ʼn spesialis in gifinligting en die Direkteur van die TGIS.

"Dit neem slegs ʼn minuut of twee om te leer hoe om vergiftiging te verhinder en wat om te doen indien dit gebeur. Deur die inligting beskikbaar te stel in al 11 tale, wil ons seker maak dat die toepaslike inligting in ʼn persoon se taalvoorkeur beskikbaar is," sê Marks.

Die kaarte sluit inligting in oor vergiftiging met insekdoders, gevalle waar medikasie in oordosisse geneem word en biologiese gifstowwe met verwysing na giftige diere en plante.

Die TGIS bied ʼn inligtingsdiens aan gesondheidspesialiste en die algemene publiek oor hoe om vergiftiging te hanteer. Die sentrum is by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op die Tygerberg-kampus in Kaapstad geleë.

24-uur-hulplyn

Lede van die publiek kan ook die Wes-Kaapse Gifinligtingshulplyn, wat ʼn diens aan Suid-Afrika en haar buurlande lewer, by 0861 555 777 kontak. Dié 24-uur diens word aangebied deur spesialiste by die Tygeberg-gifinligtingsentrum en die Rooi Kruis-kinderhospitaal se Gifinligtingsentrum.

Laai ʼn gifinligtingskaart in die taal van jou keuse af by: www.sun.ac.za/poisoncentre.

Kontakbesonderhede vir die Tygerberg-gifinligtingsentrum:

24-uur-noodnommer: 0861 555 777 E-pos: [email protected] Webwerf: www.sun.ac.za/poisoncentre

MedianavraeBemarkingskoördineerderMandi Barnard+27 (0)21 938 9505[email protected]Afdeling Bemarking en KommunikasieFakulteit Geneeskunde en GesondheidswetenskappeUniversiteit Stellenbosch  

Webwerf:       www.sun.ac.za/health Facebook:     www.facebook.com/SUhealthsciTwitter:           @SUhealthsci