
Gestremdheid kry Samantha nie onder
Die tweedejaar mediesestudent, Samantha Stander, oorkom daagliks baie uitdagings.
Hierdie 22-jarige is gebore met ernstige oorerflike ontwikkelingsdisplasie in albei haar heupe en dokters het vir haar ma gesê dat sy nooit sal kan loop nie.
Vandag loop hierdie oorgehaalde jong vrou nie net nie, sy het al meer as 20 hardloopwedlope voltooi, insluitend The Grind hindernis-wedloop. Tydens dié wedloop moes sy nie net hardloop nie, , maar ook oor mure klim, deur modder kruip en in 'n steengroef swem (om maar 'n paar hindernisse te noem) om die eindpunt te bereik.
Weens haar gebrek het sy beperkte gebruik van haar bene, wat beweging moeilik en pynlik maak.
"The Grind was beslis die taaiste wedloop wat ek nog gedoen het. Die hindersbaan daag elke aspek van jou liggaam uit – jou bene, arms en ook jou gees," vertel Stander.
Ter voorbereiding vir The Grind is Stander opgelei deur Dominique D'Oliveira, wat ook een van Stander se spanmaats was gedurende die wedloop.
As gevolg van haar displasie kon Stander geen sport beoefen het terwyl haar liggaam gegroei het nie, en het sy eers verlede jaar aktief begin raak. Tans kan sy slegs kort afstande hardloop en wissel sy tussen draf en staf wanneer sy 'n wedloop doen.
"Ek moet myself aanhoudend oorreed om die wedloop klaar te maak, ek het geen verskoning om nie tot by die eindpunt te kom nie, selfs al moet ek myself oor die eindpunt sleep," gee Stander te kenne.
Sy is oorgehaal om aan te hou met hardloop- en hindernis-wedlope en het ook onlangs begin fietsry en sy het reeds haar oog op die Kaapstad-fietstoer vir 2017.