Skip to main content
Geen kitsoplossing vir vetsugverwante siektes

Geen kitsoplossing vir vetsugverwante siektes

Media and Communication, Faculty of Science
03 November 2017

Suid-Afrika behoort 'n suikerbelasting te implementeer én terselfdertyd goed gestruktureerde, langtermyn navorsingstudies te onderneem wat die Suid-Afrikaanse konteks in ag neem.

Dít is die standpunt van prof. Faadiel Essop, hoof van die departement fisiologiese wetenskappe se navorsingsgroep oor kardiometaboliese siektes by die Universiteit Stellenbosch. Sy perspektiefartikel is vandag (Donderdag 2 November 2017) in die South African Heart Journal gepubliseer.

Terwyl die inname van toegevoegde suikers onder Suid-Afrikaners die afgelope dekade beduidend toegeneem het, bly die vraag of dít inderdaad die primêre oorsaak van die toename in nie-oordraagbare siektes soos diabetes en kardiodisfunksie is, egter steeds onbeantwoord.

“Alhoewel suiker in die algemene dieet afkomstig is van 'n hele reeks voedselprodukte wat jy inneem, bevat drankies soos gaskoeldrank, vrugtesap, energiedrankies en versoete melkdrankies 'n aansienlike proporsie toegevoegde suikers," verduidelik hy. Een 330ml-blikkie gaskoeldrank bevat byvoorbeeld ongeveer sewe tot nege teelepels suikers.

Die Journal of the Endocrine Society publiseer ook vandag 'n artikel waarin prof. Essop en lede van sy navorsingsgroep 'n oorsig gee oor 36 navorsingstudies oor die afgelope dekade se kardiometaboliese effekte van die inname van suikerversoete drankies.

Hierdie oorsig het getoon dat die meeste epidemiologiese studies sterk daarop dui dat die gereelde inname van hierdie drankies bydra tot die aanvang van metaboliese sindroom, diabetes en hipertensie.

Die meeste van die studies wat geanaliseer is, het individue betrek wat meer as vyf suikerversoete drankies per week gedrink het.  

Studies oor dieet en diabetes het 'n verband onthul tussen die inname van so min as twee suikerversoete drankies per week, en die verhoogde risiko vir die ontwikkeling van tipe 2-diabetes. Verskeie van hierdie studies het ook bevind dat die inname van slegs een suikerversoete drankie per dag geassosieer kon word met verhoogde bloeddruk.  

“Hierdie bevindings demonstreer duidelik dat dit nodig is om Jan en San Alleman op te voed oor die skadelike effek van die oormatige inname van suikerversoete drankies," sê prof. Essop.

“Maar ons begrip van hierdie onderwerp sal baat by bykomende navorsing wat ons in staat sal stel om verder duidelikheid te kry oor hóé suikerversoete drankies ons gesondheid beïnvloed. Ons analise het sommige beperkings blootgelê ten opsige van die huidige navorsing oor hierdie onderwerp. Daar is beslis 'n behoefte aan meer langtermynstudies, sowel as gestandaardiseerde navorsingmetodes."

Prof. Essop ondersteun die potensiële implementering van 'n suikerbelasting in 2018, maar voer ook aan dat dit deel moet uitmaak van 'n wyer strategie ten einde die algehele suikerinname van individue te verlaag, beginnende by suikerversoete drankies.

Hierdie werk is ondersteun deur die Suid-Afrikaanse Navorsingstigting en die Universiteit Stellenbosch.

Media navrae

Prof Faadiel Essop

Departement Fisiologiese Wetenskappe, Universiteit Stellenbosch

E-pos: [email protected]

Tel: +27 _21 808 4507

Foto: Victor (NonCommercial-ShareAlike 2.0 Generic (CC BY-NC-SA 2.0). https://www.flickr.com/photos…